Die plaaslike fotograaf Johan Dempers is geen vreemdeling as dit by avontuur kom nie.
Maar nou, ná ’n kleurvolle loopbaan as soldaat, Midde-Oosterse veiligheidsbeampte en verkenner van die vreemde, staan Johan op die drumpel van die avontuur van ’n leeftyd nadat hy en sy jare lange vriendin, Muldene Holloway, verloof geraak het.
En, natuurlik het hierdie avontuurlustige paartjie nie op die gewone romantiese manier met ’n knie-buig op ’n mooi strand of in ’n swierige restaurant verloof geraak nie – eerder in ’n onherbergsame woud reg op die ewenaar op die vulkaniese eilandgroep Sao Tome en Príncipe– dit ook op die spesiale dag, sonnewende of sonstilstand (21 Desember).
Johan vertel dat hy, Muldene en een van hulle jare lange mede-avonturiers, Dieter Pei, in Desember na hierdie eilande aan die Weskus van Afrika gereis het.
Hulle is op 21 Desember op ’n bootjie na die suidelike eiland ilhéu das Rolas (Rolas-eiland).
“Niemand het vooraf geweet wat gaan gebeur nie, maar ek het dit natuurlik beplan,” sê Johan.
Muldene vertel verder nadat hulle op die geïsoleerde eiland aangekom het, was dit nogal ’n baie lang staptog om die ewenaar te bereik, en dit in uiters warm en bedompige toestande, maar asemrowend mooi, sê sy.
“Daar aangekom het Johan rondgetrippel. Drie ander toeriste het daar aangekom en ek en Dieter kon nie verstaan hoekom ons nog moes rondstaan en wag nie. Toe hulle weg is, gee Johan my ’n klein byltjie wat ons in Rusland gekry het en hy sê ek moet dit op die ewenaarlyn plaas. Toe haal hy sy boek, Many journeys of the world, uit sy rugsak en plaas dit ook op die ewenaarlyn. En toe nog sy weermag- ‘dog tags’ ook.
“Ek het dit als vreemd gevind. Maar toe sê hy ek moet aan die suidekant van die ewenaar staan terwyl hy noord staan.
“Toe neem hy die ‘dog tags’ en my hand en hy bind ons hande daarmee vas. En daar sê hy dat hulle vir ewig saam gebind sal word.”
Dit is toe dat hy die ja-woord vra.
Johan het oënskynlik elke beweging goed beplan, aangesien die byltjie ’n Germaanse tradisie is wat slegte energie verwyder, die boek is die reise deur die wêreld wat die twee al saam beleef het asook reise wat hulle nog verder saam beplan, en die ‘dog tags’ het ’n baie spesiale rol in hul geskiedenis saam.
Johan en Muldene het mekaar reeds in 2005 ontmoet, kort nadat Johan in ’n voorval in Irak beseer is. Muldene was toe ’n student in fotografie en grafiese ontwerp en Johan het pas uit Koeweit teruggekeer nadat hy drie maande in die hospitaal was. Johan was eers bedlêend en later lank in ’n rolstoel voordat hy weer kon begin loop. Hier het Muldene ’n baie groot rol in sy rehabilitasie om weer te loop en ’n “normale lewe” te lei, gespeel.
So het die avontuurlustige liefdesverhaal tussen die twee, wat in talle lande afgespeel het, begin.
Verlede jaar het hulle ook onder meer ’n ontdekkingsreis na Rusland aangepak om veral die noorderlig op kamera vas te vang. Voor dit was hulle drie maande lank op ’n opvoedkundige reis deur die Amasone.
Die twee het tussen hulle altesaam 20 verskillende lande besoek.
Vanjaar reis hulle weer op hul fotografie-toere na Rusland, Oostenryk, Hongarye, Siberië en weer Sao Tome & Príncipe.
Verder het Johan seker nog verrassings in die mou as dit by die troue kom. “Die troue sal vir seker iets spesiaals wees, maar geen kommentaar op hierdie tydstip nie!” sê hy.• Two well-travelled adventurers from the valley became engaged right on the equator on the very remote island group of Sao Tome and Príncipe.