Gloria Samson (links), afgetrede hoof van Groenberg Primêr, help elke middag leerders by die klub. Sy staan hier saam met twee trotse ouers by die leerders van die FWC huiswerk- en studieklub.studieklub.Foto: Renate Smit


Die Family Worship Centre (FWC) se gemeenskapshuiswerk- en studieklub wat onlangs gestig is, is ’n aanwins vir die Wellington-gemeenskap.

Die bekendstelling van hierdie klub by die FWC in Pentzstraat Saterdag 24 Maart was ’n groot sukses en het goeie reaksie vanuit die gemeenskap van Wellington geniet.

Volgens dr. Karen Collete, senior lektor van die departement opvoekundige studies by die Universiteit van Wes-Kaapland, speel só huiswerk- en studieklub ’n baie belangrike rol in ’n gemeenskap om leerders die ondersteuning wat moontlik tuis ontbreek, te bied.

“Die meeste ouers werk albei voldag en vind dit vermoeiend om saans hul kinders met huiswerk en studies te help. Só klub neem daardie stres weg sodat die gesin hul saamweestye meer kan geniet.”

Enige leerder van graad 1 tot 12 is welkom by die klub en alle hulp met skoolwerk word gratis aangebied.

Dit was roerend om die leerders se vertellings te hoor oor die impak wat die huiswerk- en studieklub reeds op hul skoolwerk het en hoe dit hulle moed gee vir die toekoms.

Die meeste van hierdie leerders het voorheen nie hul studietyd in die middae benut nie. Nou word hulle direk ná skool gevoed en kry hulp van onderwysstudente en onderwysers om hul huis- en leerwerk in dié tyd te voltooi.

Die klub is besig om goed uit te brei en ook rekenaars aan te skaf om toegang tot die internet beskikbaar te stel sodat die leerders die nodige navorsing vir hul skooltake kan doen.

Om dít reg te kry word grootliks op borge staatgemaak.

Hierdie is ’n baie belangrike groep wat ’n groot behoefte in die gemeenskap die hoof bied.

Hopelik sal skole dit heelhartig ondersteun en onderwysers ook verstaan hoekom swak presteerders se take en ander skoolwerk skielik topgehalte is – met die regte inligting, goeie sinskonstruksie, sonder spelfoute, goeie beplanning en uitleg, volledige verwysings en bronnelyste.

You need to be Logged In to leave a comment.