Daar hang ’n skrefie positiewe nuus aan die rand van die donker wolk van ernstige geweldsmisdaad wat Wellington oor die afgelope paar weke getref het.
Terwyl Wellington se mense steier onder die nuus dat bekendes op die dorp wreed vermoor en aangerand is, het die misdaadvlakke in die meeste woonbuurte op die dorp duidelike tekens van ’n afname begin toon.
Volgens Stefan Landsberg van die organisasie WAG/Stop Misdaad het huisbrake in groot dele van die dorp geleidelik begin afneem danksy die feit dat die Wellingtonse polisieforum en WAG/Stop Misdaad se gereelde patrollies steeds meer sigbaar begin word.
“Dit voel egter of ons soms na strooihalms gryp, want hoewel die statistieke sê misdaad is besig om in sekere dele van die dorp te daal, het dit die afgelope paar weke in die landelike gebiede rondom die dorp begin styg,” het Landsberg die afgelope week gesê. “Plase in die omgewing van die Perdeskoen het veral in die jongste tyd erg onder diefstal deurgeloop – geld is uit huise gesteel en gereedskap en waterpompe het verdwyn. Dit lyk of die styging in werkloosheid wat die dorp en omgewing tans ervaar ’n groot invloed op hierdie probleem het.”
Die Polisieforum en WAG/Stop Misdaad hou op 10 Augustus ’n vergadering waarin daar weer deeglik na die jongste misdaadsyfers van Wellington en omgewing gekyk sal word.
Johan Nel