Huis Murray eens ’n bekende sterrewag

Wellington het ’n roemryke geskiedenis wat strek van kuns, landbou, onderwys en godsdiens.


Wellington het ’n roemryke geskiedenis wat strek van kuns, landbou, onderwys en godsdiens.

Min inwoners van hierdie eens historiese nedersetting weet egter dat die bekende NG Kerk, met die standbeeld van ds. Andrew Murray, aanvanklik sonder sy prominente toring gebou is en dat sy vleuels en die dorp eens die tuiste van ’n sterre­wag, ’n voorganger van die gevorderde sterrewag in Sutherland, was.

Die jong mej. A.P. Ferguson was ’n ingeskrewe leerder van die Hugenote Seminarie waar sterrekunde sedert die skool se stigting in 1874 as vak aangebied is.

Die jaar 1882 was in twee opsigte ’n besondere jaar in astronomiese terme. Eerstens het die groot komeet van 1882 so helder geword dat dit selfs in die dag sigbaar was. Deur dit af te neem het dan ook ’n nuwe era in fotografie van die sterrekunde ingelei. Tweedens was dit die laaste geleentheid voor die jare 2004 en 2012 toe die oorgang van die planeet Venus oor die skyf van die son waargeneem kon word. Hierdie vreemde verskynsel was wêreldwyd fyn deur wetenskaplikes en sterrekundiges dopgehou wat Wellington dan ook in 1882 besoek het as deel van ’n sterrekundige ekspedisie onder leiding van prof. Simon Newcomb om die oorgang van Venus oor die son waar te neem.

Die observasiepos bestaande uit vier klein geboutjies vir hierdie historiese gebeurtenis was dan ook in die tuin van die seminarie agter Huis Murray en ook verblyf vir die leerders van die seminarie. So kon die meisies van die skool hul eie observasies doen.

Met prof. Newcomb se vertrek laat die wetenskaplikes twee intrument-monteringspilare agter met die hoop dat dit jare later weer met die volgende Venus-oorgang in 2004 gebruik sal word.

Teen 1936 het hierdie oorblyfsels egter verdwyn, maar ’n fondasie van een pilaar is opgespoor en is die posisie toe met ’n ysterpaal gemerk wat toe ook intussen verdwyn het.

Die latere tennisbane agter Huis Murray word geskat die plek te wees waar die sterrewag eens was met ’n antieke teleskoop wat ook spoorloos verdwyn het. Die oorblyfsels was egter te min om as monument verklaar te word.

Mej. Ferguson se teleskoop was in ’n geboutjie (iets soos ’n rondawel) gehuisves in die tuin aan die noordekant (agterkant) van Huis Murray.

Deur die jare was die teleskoop maar min gebruik en dit is moontlik te wyte aan die feit dat die vak sterrekunde teen 1890 afgeskaf moes word toe die matriekstelsel ingebring is.

Bronne bevestig egter dat die sterrewag van Ferguson nog in 1933 bestaan het.

Desember 1878 lewer die Hugenote Seminarie dan ook haar eerste klas onderwyseresse wat hul diplomas ontvang wat in verskeie dele van die land hul onderwysloopbane begin het. Min het hulle geweet dat hul name in die geskiedenisboeke verewig sou word deur ’n jonge dame wat inderdaad na sterre gereik het.

.
Bron: Wellington-museum

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.