André Coetsee en Roulé Eloff (middel agter), die nuwe eienaars van Huis Lizelle in Wellington by die geleentheid wat hulle spesiaal vir die inwoners gereël het om dankie te sê vir hul geduld terwyl die herstelwerk en verbeteringe aan die gebou aangebring word. Niël Rademan (links) het vir die musiek by die geleentheid gesorg. Voor by hulle is Juriana Willemse en Rona Kemp, twee van Huis Lizelle se inwoners.


Huis Lizelle, die woonplek vir bejaardes in Wellington, se inwoners is besig om na die onlangse traumatiese brand waarin een van die inwoners haar lewe verloor het met nuwe oë na hul woonplek te kyk

Die brand het groot skade, nie net aan die gebou aangerig nie, maar van die inwoners het ook hul besittings verloor.

Kort ná die verwoestende brand het ’n nuwe maatskappy, onder aanvoering van André Coetsee en Roulé Eloff, die gebou wat erg beskadig was, gekoop. Hulle het dadelik begin om nie alleen die brandskade te herstel nie, maar om ook elke wooneenheid in Huis Lizelle van hoek tot kant te herstel.

“Dit het baie geduld van die inwoners geverg, want om die werk ordentlik te doen moes hulle vir ’n dag of twee na een van die leë eenhede trek terwyl ons hulle plekke reggemaak het. Vir ons as nuwe eienaars is dit wonderlik om te sien hoe positief al Huis Lizelle se inwoners die nuwe voorkoms van die gebou ervaar.”

Coetsee en Eloff het met die oog daarop verlede Sondag ’n geleentheid by die ACVV-dienssentrum gereël om aan die inwoners dankie te sê vir hulle geduld en bereidwilligheid om saam te werk. Die bekende kunstenaar, Niël Rademan, het by die geleentheid gesing en musiek gemaak en gesorg dat die inwoners self ook hartlik saamsing en die middag terdeë geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article