Die beheerliggaam van 2010 spit die eerste sooi vir die nuwe skoolsaal van Laerskool Hugo Rust. Van links is Hendrik-Jan Smit, dr. Heinie Portwig, Piet Krynauw, dr. Chris Hattingh, Adriana Heiberg en Niel le Roux (oud-skoolhoof).Foto:


Laerskool Hugo Rust pronk nou met ’n splinternuwe skoolsaal wat binnekort ingewy gaan word.

Dit is al langer as tien jaar gelede dat die skool besef het die huidige saal is nie meer van pas vir die groeiende skool nie.

Verskeie geldinsamelingsinisiatiewe is gehou en bouwerk aan die saal het in 2010 danksy ruim skenkings van verskeie individue en plaaslike instellings begin.

Die skool moes ongelukkig die hele tyd sonder ’n amptelike skoolsaal klaarkom, maar die skoolhoof, Johann Bruwer, sê die wag was gewis die moeite werd.

“ ’n Eie skoolsaal was nog altyd een van ons skool se groot drome en hierdie droom is nou bewaarheid,” sê Bruwer.

“Hierdie droom het oor ’n lang tydperk met die hulp van verskeie geld­insamelingsveldtogte en die deursettingsvermoë van ouers en personeel in 2010 gestalte begin kry. Hierdie droom is nou ‘n nalatenskap vir ons toekomstige leerders en sal vir ons bestaande leerders ook iets wees waarop hulle trots sal wees.”

‘n Behoorlike daknatmaakgeselligheid word vir 13 Oktober beplan om hierdie groot gebeurtenis in die skool se geskiedenis te vier.

“Ons as Hugo Rusters is baie opgewonde oor die viering van ons nuwe skoolsaal. Dit gaan ’n heerlike gesellige geleentheid met ’n driegangmaaltyd en vele pittige Hugo Rust-stories en
-staaltjies wees,” sê Bruwer.

Die geleentheid sluit ook ’n veiling in waar verskeie items wat eie aan Hugo Rust is sowel as talle ander goed opgeveil sal word.

“Gaste kan hulle gereedmaak vir lekker onthoustories, baie lag, musiek en ’n gesellige atmosfeer wat alle Hugo Rust-familie van toeka tot nou weer die nostalgie van ons skool se erfenis sal laat beleef.”

Die Gaskuntenaars wat Opi Bank-stories gaan vertel is Niel le Roux, André Gilliland, André Victor, Retha Rix, Thys Odendal en Mallies le Roux.

Die skool nooi alle oudonderwysers,
oudleerders en -ouers sowel as die huidige ouerkorps uit om deel van hierdie droom-wat-waar-word-geleentheid te wees. Belangstellendes kan hul Hugo Rust-vriende kontak om kaartjies vir die geleentheid te bekom of stuur ’n e-pos na marinevdm@gmail.com of jufrnan@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article