Hugo-familie se asse saam gestrooi in Bainskloof

Die as van vier Hugo-broers wat as jong seuns buite Wellington grootgeword het, asook die as van hulle swaer, is die afgelope week in een van Bainskloof se diep klowe uitgestrooi.


Die as van vier Hugo-broers wat as jong seuns buite Wellington grootgeword het, asook die as van hulle swaer, is die afgelope week in een van Bainskloof se diep klowe uitgestrooi.

“As gesin het ons, in die dae toe ons op die familieplaas Hexberg buite Wellington grootgeword het, gereeld elke winter bo in Bainskloof gaan vakansie hou,” vertel Martha Buxman van Wellington, suster van die vier broers.

Hulle was agt kinders en het op Hexberg, die ou familieplaas wat sedert 1798 in besit van die Hugo’s was, grootgeword. As gesin het almal deur die jaar hard op die plaas gewerk. Daar is hoofsaaklik met druiwe geboer. Hulle het rosyntjies gemaak en tafeldruiwe gepluk. In die winter, wanneer die werk op die plaas effens afgeneem het, het die gesin in ’n huis bo in Bainskloof vakansie gehou.

“Ons het Bainskloof se koppe en klowe platgeloop en agterna, toe ons as volwassenes uitmekaar gespat het, het ons tydens elke familiebyeenkoms saam sit en terugverlang na daardie wonderlike dae bo in die berge.”

Melt Hugo, die derde oudste broer, is in Julie vanjaar oorlede. Een van sy laaste wense was dat sy as in Bainskloof, waar hy en sy broers en susters so gelukkig saam vakansie gehou het, gestrooi moet word.

Sy suster Martha het aangebied om ’n byeenkoms in Bainskloof te reël om die as daar te strooi. Toe sy die familie begin skakel om die reëlings te tref het sy ontdek dat die as van drie van haar ander broers, Danie, Johan en Hennie, wat ook al lankal oorlede is, nog steeds deur hul weduwees gebêre word. Uiteindelik is daar besluit om al vier broers se as saam in Bainskloof te gaan uitstrooi. Toe ontdek hulle dat die as van ’n gewilde swaer, Pierre Carstens, ook nog deur sy weduwee bewaar word.

Die weduwees en tientalle van hul kinders en kleinkinders het op Saterdag 15 Oktober op Martha se kinders se plaas buite Wellington bymekaar gekom waar ds. Johan Crous ’n aangrypende gedenkdiens gelei het. Daarna het almal saam tee en verversings geniet en Saterdagmiddag het almal na Bainskloof gery met die vier broers en hul swaer se as.

“Toe ons teen Bainskloof uitry het ons almal gevoel dat ons ons vier broers en hul geliefde swaer huis toe neem, terugneem na die plek waar hulle as kinders sielsgelukkig was,” sê Martha. “Wat veral aangrypend was, was die feit dat dit Saterdagmiddag daar bo in die berg windstil was, maar die oomblik toe die houers met die as oopgemaak word, het ’n ligte briesie in die klowe opgestoot, die as gevat en dit wyd teen die kranse uitgestrooi . . .”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.