Vir ’n meer gepaste viering van haar 30ste jaar as koorafrigter kon Leana Engelbrecht van Laerskool Hugenote op Wellington omtrent nie gevra het nie.
Die skool se junior én senior kore het onlangs albei eerste plekke in hulle uitdun van die kykNET-televisieprogram Sing in Harmonie behaal. Sodoende het albei kore ook deurgedring na die Kaapse finaal van dié kompetisie vir skoolkore.
Die Kaapse finaal sal later vanjaar plaasvind. Die wenners daarvan sal deurdring na die nasionale finaal wat in Desember in Johannesburg gehou word, waar die beste kore uit die suidelike en noordelike streke teen mekaar te staan sal kom. Volgens aanbieder en uitvoerende vervaardiger, Anthonie Bougas, is sowat R450 000 se prysgeld vir die wenkore op die spel.
Dit is die eerste jaar dat Hugenote se senior koor aan dié koorkompetisie deelneem, nadat die skool se junior koor verlede jaar al ervaar het hoe dit is om voor die televisiekameras en -ligte te sing. Hulle het in 2016 besonder goed gevaar en is tydens die Kaapse finaal van Sing in Harmonie as die beste nuwelinge aangewys.
Vrydagaand was die beoordelaars veral beïndruk met die Hugenote-kore se afgeronde en soet klanke en die harde werk wat ingesit is om die optredes so suksesvol te maak. Hennie Loock van die Tygerberg-kinderkoor was onder die beoordelaars.
Die opname sal oor sowat vier maande in Sing in Harmonie se tydgleuf Sondagmiddae op kykNET gesien kan word. Opnames van die noordelike been van die kompetisie word tans uitgesaai.
Juffrou Leana, soos sy alombekend is by die skool, is al sedert 1981 ’n onderwyser by Hugenote. Sy het eers op Worcester skoolgehou en daar haar eerste voorsmakie van koorafrigting gekry. Sy het in die vroeë 80’s die eerste keer voor ’n Hugenote-koor gestaan. Na ’n blaaskans van ’n paar jaar hou sy sedert 1992 strykdeur die leisels as dit by koorsake kom.
Wat hou haar na al die jare gemotiveerd? “Een van die lekkertes is om leerders bloot te stel aan ’n verskeidenheid van goeie musiek en om ’n liefde vir koormusiek by hulle te kweek,” vertel hierdie graad 5-onderwyser wat Afrikaans gee. “Dis ook vir my lekker as ek kan sien dat kinders dit geniet om te sing en om die genot van koorsang oor te dra aan diegene wat na ons luister.”
Sy word die afgelope jaar knap bygestaan deur ’n Hugenote-ouer, Martha du Plessis, wat as klavierbegeleier optree. Vrydagaand se kooruitvoerings in Durbanville was ’n Hugenote-poging soos min. Nog ’n Hugenote-ouer, Marelize Watts, het die junior koor op dwarsfluit begelei, terwyl ’n oudleerder, Ighnus Grobler, viool gespeel het toe die senior koor Waterblommetjies gesing het.
Vroeër vanjaar het Laerskool Hugenote se senior koor ook by Hoër Jongenskool se koorkompetisie die botoon gevoer. Hulle het daarmee ’n besondere prys losgesing. ’n Liedjie gaan spesiaal vir hulle gekomponeer word, waarna dit opgeneem en oor Bok Radio gespeel sal word.
Laerskool Courtrai se koor het tydens hulle been van die Kaapse kompetisie na die finale Kaapse ronde deurgedring om later vanjaar teen Laerskool Hugenote en ander Wes-Kaapse kore te staan te kom.