Hugenote-tonnel gesluit, talle brande, skade weens gure weer in Drakenstein

Branddienste is ook ontbied na ’n brand op die hange van Paarlberg. Dié brand is op dieselfde plek waar dit ’n paar weke terug gebrand het. Foto: Rasaad Adams


Stormsterk wind wat oor die naweek begin opsteek het is besig om groot skaalse skade en chaos te saai in die Kaapse Wynland.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aanvanklik Donderdag (4 April) inligting uitgesit oor koue temperature, wydverspreide reënval en moontlike vloede wat voorspel word vanaf 6 tot 9 April. Teen Saterdagmiddag (6 April) het die weerdiens die stormwaarskuwing na ’n vlak 9 opgradeer. Drakenstein is een van die munisipaliteite waar daar gewaarsku is teen die nuwe stormwaarskuwing.

Intussen is talle voorvalle van verwoesting Sondag (7 April) in die Paarl, Wellington en omliggende gebiede aangemeld.

Verskeie brande is aangemeld onder andere Paarlberg wat in vlamme is, ’n veldbrand langs Jan van Riebeeck-rylaan naby Klein Parys en strukturele brande in Smartie Town in Paarl-Oos.

Brande in Klein Drakenstein het die historiese Mountain Shadows-plaas ook in puin gelê en vrywilligers van die Drakenstein-plaaswag (DFW) is steeds besig om die brand daar te bestry.

Die plaaslike brandweer saam met DFW is ontbied na die afsonderlike voorvalle in die hoop om die brande te blus te midde van die sterk wind.

Die uitgeputte DFW-hoof, Daan van Leeuwen-Boomkamp, het gesê dat sy spanne reeds vanaf laat gistermiddag besig is om een noodgeval na die ander na om te sien. “Dit is chaos, ons is uitgeput, maar ons hou aan om die gemeenskappe by te staan.”

Verskeie inligting rondom erge windskade stroom ook in. Talle inwoners van regoor Drakenstein word geaffekteer deur dakke wat afgewaai het en bome wat omgeslaan het. In een voorval het ’n boom ingegee op ’n woonstel in Chicago en die struktuur erg beskadig gelaat het.

Die Hugenote-tonnel is ook in tussen vir swaar en ligte voertuie gesluit in beide rigtings.

  • Meer inligting sal bygevoeg word.

You need to be Logged In to leave a comment.