’n Aantal ontstoke Wellingtonners het in die jongste tyd by Paarl Postgekla dat hulle nie meer, soos in die verlede, oor naweke op die Hoërskool Hugenote se uitgestrekte groen sportvelde kan gaan stap nie.

Die skool se hekke word deesdae gesluit en ’n veiligheidswag pas streng beheer toe oor wie na ure tot die skoolterrein toegelaat word.

“Dis nie net Wellington se mense wat die voorreg ontneem word om rustig in ’n oop ruimte te ontspan nie, dis veral ons honde wat skielik die voorreg ontneem is om vir ’n kort rukkie elke dag of oor naweke op die groen grasvelde rond te baljaar,” het een van die inwoners gesê.

Wikus Naudé, Hoërskool Hugenote se nuwe skoolhoof, sê dit was nie vir hom en sy personeel maklik om die besluit te neem om strenger beheer uit te oefen oor wie die skoolterrein na ure mag betree nie.

“Die wêreld om ons het oor die afgelope klompie jare heelwat verander. Die skoolgronde is nie na ure ’n verlate stuk grond nie. Hier woon baie leerlinge in ons koshuis en dit is ons as personeel se plig om na hulle veiligheid om te sien. Ons het die afgelope paar weke ’n opname gemaak van hoeveel mense die skoolgronde na-ure onwettig betree en ons was geskok om te ontdek dat die skoolgronde vir baie mense, selfs laat in die nag, ’n gerieflike deurpad geword het.”

Volgens een van die personeellede is die onwettige betreding van die skoolterrein nie iets wat skielik in die jongste tyd opduik nie. ’n Paar jaar gelede het ’n koshuisganger by die skoolhoof kom kla dat sy beursie uit sy kamer verdwyn het. Twee weke later het die polisie die beursie na die skool gebring. Dit is in Beaufort-Wes in ’n motor gevind waarvan die insittende ná ’n misdaad op die dorp van die polisie weggejaag het. ’n Dief het glo die skoolkoshuis deurgesoek terwyl die leerlinge in hul klasse was en die beursie was deel van sy buit op Wellington voordat hy verder na die binneland uitgewyk het.

Die skoolhoof het beklemtoon dat hy en sy personeel groot begrip het vir mense wat na ’n oop ruimte soek om met hul troeteldiere te gaan stap. Hul behoefte aan stapplek moet egter opgeweeg word teen die stygende misdaadvlakke oral in die land en die skool se verantwoordelikheid om die leerlinge se veiligheid te verseker.

Hierdie behoefte aan oop ruimtes waar Wellingtonners veilig kan stap, onderstreep ’n ander ernstige probleem: die dorp beskik nie oor parke en ander oop ruimtes wat met veiligheid deur die inwoners gebruik kan word nie. Sluipslapers maak dat selfs ’n plek soos Victoria Park dag en nag gesluit moet word om ’n klompie inwoners van die dorp geleentheid te gee om die park weer tot sy eertydse glorie te probeer herstel.

In die jongste tyd vestig Wellington se mense hul hoop op die dorp se buurtwag wat planne in werking probeer stel om ’n groot stuk oop ruimte langs die Spruitrivier in ’n veilige stapplek vir die inwoners te omskep. Die plan vorder egter baie stadig omdat die deel van die rivier volgens ’n lid van die buurtwag op die oomblik ook slaapplek aan talle sluipslapers bied en daar geen plekke soos nagskuilings op die dorp bestaan waarheen hulle verskuif kan word nie.

* Owing to a growing security risk, Wellington residents who have used the beautiful sports rounds of Hugenote High School as a recreational area, have now been barred from the premises.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article