Optredes deur kore van Hugenote Laerskool in Wellington, Laerskool Eikestad in Stellenbosch, Laerskool Riebeek Kasteel en Windermere Primêre Skool was onlangs om 16:00 te sien op die kykNET NOU reeks, Sing in Harmonie.
Met bykans 90 deelnemende skoolkore landwyd en R111 000 in pryse op die spel, is dit vir seker die grootste koor- gebeurtenis in Suid-Afrika.
Die kore tree op in die grande finale wat plaasvind op Donderdag 24 November en Vrydag 25 November by die Hoërskool Durbanville ouditorium, waar ’n gehoor van bykans 1 500 tussen die twee opnames verwag word.
Die finale word uitgesaai op Sondag 4 Desember om 16:00 op kykNET NOU, kanaal 146.
“Vir ons was hierdie ervaring en deelname aan Sing in Harmonie ongelooflik. Die kinders was entoesiasties en het hard geoefen, ons sien baie uit na die finaal, dit gaan bietjie senutergend wees, maar ons het goeie opbouende kritiek gekry waaraan ons hard gaan werk en ons beste lewer,” het Leana Engelbrecht, koorleier van Hugenote Laerskool se junior koor gesê.
Die reeks se uitvoerende vervaardiger en aanbieder, Anthonie Bougas (ook aan die stuur van reekse soos Uitblinkers, Kleuterzone en Solis vir Christus), is verstom oor die talent wat hierdie jaar na vore kom op die verhoog.
“Sing in Harmonie is die eerste kompetisie wat vir laerskoolkore regoor Suid-Afrika die kans bied om op nasionale televisie hulle merk te maak en in die proses hulle deel van R111 000 (Suid-Streke) se pryse los te slaan,” het Bougas gesê.
Die reeks vier ook vanjaar sy derde bestaansjaar; ná die reusesukses van die tweede reeks in 2015.
Die inskrywings is reeds oop vir 2017 en skole word aangeraai om so gou moontlik hul kore in te skryf, aangesien daar ’n beperking op die getal inskrywings is.
Vir verdere navrae, bel vir Rensche Bougas by 074 886 8719 of stuur ’n e-pos na rensche@absproductions.co.za.