Hugenote-hokkie wys staal

Daar is baie Wellingtonners wat met lang gesigte rondgeloop het toe die meeste van die Hugenote Hoërskool se sportspanne nie die mas kon opkom by die interskole-byeenkoms op Malmesbury nie.


Daar is baie Wellingtonners wat met lang gesigte rondgeloop het toe die meeste van die Hugenote Hoërskool se sportspanne nie die mas kon opkom by die interskole-byeenkoms op Malmesbury nie.

Die ironie van die saak is dat die ongelukkigheid gemaak het dat die ongekende prestasie van een van Hugenote Hoërskool se spanne totaal by baie mense verbygegaan het.

Die skool se hokkiespan vir meisies het nie alleen met vlieënde vaandels sy wedstryd op Malmesbury gewen nie, die span het ook gedurende afgelope twee jaar alle wedstryde wat hy teen omliggende skole gespeel het, loshande gewen.

In die twee jaar wat verby is het dié hokkiespan van Hugenote Hoërskool altesaam 49 doele in twaalf wedstryde behaal terwyl die skole teen wie hy gespeel het gesamentlik slegs sewe doele teen Hugenote Hoër kan aanteken.

Een van hierdie wedstryde het die hokkiespan van Hugenote met ’n ongelooflike 14 doele teen nul gewen. Die onlangse interskole-wedstryd teen Swartland het die Hugenote-span met twee doele teen nul gewen.

“Hierdie ongekende prestasie is behaal deur ’n hokkiespan wat, anders as byvoorbeeld die rugbyspanne, met ’n baie klein borgskap aan die gang moet probeer bly. Die meeste van die spanklere moet teen die einde van die jaar aan die skool teruggegee word om die volgende jaar se span uit te rus,” het die ouers van een van die hokkiespanspelers die afgelope week gesê.

Dit is ook opvallend dat die koms van die nuwe Astro-baan die sukses van die hokkiespan ingelei het. Daar was aanvanklik groot teenstand teen die bou van die duur Astro-baan maar vandat die hokkiespan op die nuwe baan begin oefen het, het hulle die een oorwinning ná die ander behaal.

Benewens die rol wat de Astro-baan in die afrigting van hierdie uitsonderlike wenspan gespeel het, glo baie ouers ook dat die spanafrigter, Anrie Keevy, ’n deurslaggewende rol in die span se sukses speel.

Anrie Keevy besit die gawe om op ’n stil manier en sonder ’n geskree en gegil haar span tot ongekende hoogtes aan te vuur.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.