Hugenote Hoërskool ruk en rol

As Grease jou aan die ruk en rol kry, moet jy van 8-11 Mei by Hugenote Hoërskool ’n draai maak waar hierdie gewilde musiekblyspel op die planke sal wees.


As Grease jou aan die ruk en rol kry, moet jy van 8-11 Mei by Hugenote Hoërskool ’n draai maak waar hierdie gewilde musiekblyspel op die planke sal wees.

Hugenote Hoërskool se talentvolle span akteurs en sangers span saam om hierdie bekende storie en onvergeetlike musiek van die Pink Ladies en die Burger Palace Boys aan te bied.

Tussen al die kattekwaad wat die bendes aanjaag, word daar gesing en gedans op die maat van geliefde liedjies soos “Summer Nights”, “We go together”, “Look at me I’m Sandra Dee” en “Beauty School Dropout”.

Grease is Hugenote Hoërskool se derde musiekblyspel die afgelope drie jaar. Ná die wegholsukses en uitverkoopte sale van Beauty and the Beast en Sound of Music, was hierdie jaar se keuse ’n maklike een. ’n Orkes in lewende lywe begelei die sangers en dansers en sal die voete laat jeuk.

Johann Enslin is aan stuur van sake en behartig die musiek. Leandé Strömbeck en André Terblanché is die regisseurs.

Nicolene During is weer terug as choreograaf. Die rolverdeling bestaan uit 50 lede, onder andere Suné van Niekerk (Sandy), Emile du Plessis (Danny), Henk van der Spuy (Kenicke), Danré de Beer (Rodger), Gert Jordaan (Doody), Reece Poole (Sonny), Paula Zeeman (Frenchy), Mija Zeeman (Jan), Jana Malan (Marty) en Megan de Waal (Rizzo).

Kaartjies vir Grease is teen R80 vir kinders en R100 vir volwassenes by Hugenote Hoërskool te koop. Die gala-aand is 11 Mei. Kaartjies vir dié aand kos R200 en sluit ’n ete in. Galery-kaartjies is steeds teen normale pryse te koop vir die aand.

Vir enige navrae, kontak 021 873 2111 of jenslin@hugenoteskool.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.