Liefhebbers van musiekblyspele kan uitsien na nog ’n produksie van hoogstaande gehalte wanneer leerders van Hugenote Hoërskool in Wellington West Side Story op die planke bring.
Die stuk is van 30 April tot 3 Mei te sien.
Die storielyn, geïnspireer deur die tragiese Shakespeare-liefdesverhaal van Romeo en Juliet, speel in die 1950’s in Manhattan in New York af, te midde van vyandigheid tussen twee bendes. Dit is geskryf deur Leonard Bernstein en Jerome Robbins.
By die 60 talentvolle huidige en voormalige leerders van Hugenote is in die rolverdeling te sien. Paul Conradie is “Bernardo”, bendeleier van The Sharks, terwyl Vaughn Else as “Riff” The Jets aanvoer. Roode Cloete, in die rol van “Tony”, verloor sy hart op “Riff” se suster “Maria”, gespeel deur Annabelle Neethling.
Die vervaardiger, Johann Enslin, sê hy weet sy keuse van West Side Story daag die jong akteurs goed uit. Hy is egter beïndruk deur hoe hulle hul staal (en danspassies!) op die verhoog wys. Die produksie is in 1993 laas in Wellington opgevoer.
“Die blyspel behels baie dans en beweging, eerder as net sang en musiek. Dit gee leerders kans om hul toneelvaardighede uit te leef,” verduidelik Enslin.
“Die kinders floreer, want hulle kry die geleentheid om grootskaals hul passie saam met ander uit te leef. Om aan so ’n produksie deel te neem, is ’n geweldig goeie leerskool. Sommige tree uit hul gemaksone, terwyl ander weer nuwe vaardighede of ander aspekte oor hulself ontdek.
“Bernstein se musiek is mooi, maar ontsaglik moeilik geskryf, en is dus ’n heerlike uitdaging vir ons orkes van 23 musikante wat elke aand op hul pos sal wees,” vertel Enslin, wat self agter een van twee klaviere sal inskuif. “Onder die musikante is drie huidige Hugenoters, asook twee oud-leerders, Craig Williams en JD Filmalter – albei op viool – en vier ander Wellingtonners.”
Enslin word bygestaan deur die musiekonderwyser Marvin Booysen as musikale regisseur, die Paarliet André Terblanche as regisseur en oud-Blackie Liam Gillespie as choreograaf.
Gillespie het in 2012 aan Hugenote gematrikuleer en werk deesdae as danser en choreograaf. Hy het gedurende sy skooljare in Wellington onder meer in Grease gespeel.
Die stel, waaraan Hugenoters reeds twee maande bou, sal die gehoor terugvoer na die vervalle Upper West Side-buurt in Manhattan. Dit is ontwerp deur Terblanche, wat toenemend naam maak as stelontwerper.
“Met die ontwerp fokus ek op ’n meer klassieke interpretasie. Die stel funksioneer as ’n mede-karakter in die blyspel en is ’n ruimte waarvan die karakters nie kan loskom nie. Alle stelstukke en dekorstukke móét funksioneel wees, anders beskou ek dit as oortollig,” verduidelik Terblanche.
“Dis ’n reuse-opleidingsgeleentheid om te kan help stel bou. Sowat 80 leerders is by die stelbou en tegniese kant betrokke. Saam met ’n paar oudleerders en onderwysers werk hulle lang ure, maar hulle geniet die kreatiewe en tegniese dele verskriklik, omdat dit hulle deel maak van Hugenote se trotse musiekblyspel-tradisie. Dis vir my ’n groot voorreg om hul groei dop te hou,” vertel Terblanche, wat verlede jaar in David Kramer se Kanna-bekroonde Ver in die wêreld, Kittie gespeel het en vanjaar by die Suidoosterfees in Een vir my Baby! optree. . West Side Story is van 30 April tot 3 Mei om 19:00 in die Hugenote-skoolsaal te sien. Kaartjies is te koop by Janita Burger van Hugenote Hoërskool by (021) 873 2111 of burgerj@hugenoteskool.co.za teen R120 (kinders) en R180 (per volwassene). Op 30 April kos kaartjies vir kinders net R50.