Die jongspan van Wellington help Saterdag om vullis in Mbekweni op te tel en is vir elke sak vullis met ’n hamburger beloon.Foto: Wellington Lions Club


Die Wellington Lions Club sê hy wil graag die ingesteldheid van dié dorp se inwoners verander wanneer dit kom by die strooi van rommel deur ’n omgee-kultuur vir die omgewing onder gemeenskappe te kweek.

Die klub het Saterdag (9 September) ’n skoonmaakprojek in oorleg met die Drakenstein-munisipaliteit by ’n gedeelte van Blignautstraat naby Mbekweni van stapel gestuur – ’n projek wat hy hoop om na ander dele van Wellington uit te brei.

Inwoners is aangemoedig om te help vullis optel en is beloon met ’n hamburger vir elke vol sak vullis wat hulle in die gebied versamel het.

Die Drakenstein-munisipaliteit het die vullissakke voorsien.

Tim Steenberg, die president van die klub, het aan Paarl Post gesê die klub wil hê mense moet hul houding teenoor die omgewing verander.

“Dit kos net een ou wat by ’n heining staan en sy rommel in die openbaar strooi. Ons het bevind dat daar in baie gemeenskappe wel asblikke en terreine is waar mense hul rommel kan stort, maar dan is daar steeds mense wat dit langs die straat en in die openbaar sal stort.

“Daar was Maandag so baie mense wat ons gebel en gekontak het met terugvoering oor hoe skoon daardie gebied nou ná die naweek se projek lyk,” sê hy.

Steenberg sê die klub is dankbaar vir die munisipaliteit en raadslede se inkoop.

“Dit is juis hierdie raadslede wat die mondstuk van hierdie projek moet wees. Ons is dankbaar dat sekere van hulle die naweek ook self met swartsakke geloop het. Hulle is die mense wat ’n direkte verhouding met inwoners het en gaan moet help om die boodskap te versprei.

“Aan die einde van die dag is dit ons almal se dorp. Ons almal het ’n gesamentlike verantwoordelikheid om toe te sien dat ons Wellington skoon hou.”

. Die Lions Club is ’n internasionale organisasie sonder winsbejag met bykans 1,5 miljoen lede en 44 000 takke wêreldwyd.

You need to be Logged In to leave a comment.