Die lewe is mooi. Punt.
Ek staaf hierdie feit aan die hand van my fyn observasies net so knap voor ons die dag van rooi hartjies en strikkies weer gaan vier. Valentynsdag. Gaan kyk maar in die winkelsentrums. Dis net liefde, rooi rose en tjoklits opgemaak in die oulikste pakkies oral waar jy kyk. En of jy nou wil protesteer daarteen omdat jy voel dat dit net nog ’n ou geldmaakstorie is, sal die boksie tjoklits in die hartjievorm maar weer die stryd wen soos telkemaal in die verlede.
Dit laat my sommer wens om ’n onsigbare oog te wees wat die toweragtige voorreg het om te sien wat alles op die dag van liefde gebeur. Dalk sien ek die handgemaakte kaartjie opgetooi in rooi van ’n laerskoolmeisietjie wat waagmoedig daai einste kaartjie met die woorde “Be my Valentine” in boetman van die klas langsaan se skooltassie druk. Ai, dan hou ek asem op dat dit tog net by daardie mooi kinderlike gebaar sal bly, want sjoe, die kinders word darem deesdae te vinnig en voor-die-tyd groot. Ek hoop boetman bloos net en kyk in verwondering na sy valentyn en wag geduldig vir daai dag van sy eerste lekker skelm vrytjie saam met die einste valentyn . . . hopelik later . . . heelwat later as laerskool!
My nuuskierigheid, glo ek, sal my juis ook neem na ’n besige winkelsentrum. Daar waar ’n jong lat hand aan hand saam met sy nartjiepit smoorverlief die winkels invaar op soek na die gepaste liefdesdag-geskenkies vir mekaar. Of die jong getroude paartjie wat vir die eerste keer die mooi van hierdie dag saam vier met ’n onvergeetlike maaltyd by kerslig iewers in ’n spesiale restaurant. Die vonkelwyn en oorle’ Peabo Bryson wat vrolik saam kuier. En die liefdeskoor wat later dieselfde aand die laaste song sal sing wat dalk die aankondiging van die eersgeborene mag beteken. Laat ek maar uit respek vir die mooigeit van die dag vir antie Judy B uit die prentjie laat, want as ons daar kom dan weet jy die voggies het te ver en te veel getrek!
En vir dié wat al daai meer as sewe jare sakke sout saam opgeëet het, kan ek net oor wonder. Dalk is daai speelse vlam van die liefde nog daar. Of dalk het die vlam intussen verander in ’n vuurtjie wat sukkel om aan die gang te kom. Die redes mag strek van gewoond wees aan mekaar, ’n huis vol kinders wat almal skree om liefde en aandag, pootuit van die werk af, die motor en ander paaiemente wat betaal moet word.
Soveel so dat die Valentynsdag sprankel al hoeka iets van die verlede is en daai departement so droog is soos die Namibwoestyn.
Dalk is hierdie jaar net die gepaste geleentheid om weer daai cowboy-hoed met niks daarby op te sit. En haal weer daai kiekies van ouds uit, stof dit af en word net weer herinner aan al die mooi redes hoekom julle vir die afgelope paar dekades nog bymekaar is.
O wee, my opregte simpatie gaan egter uit na dié van ons wat vir die soveelste Valentynsdag weer hoog en droog moet sit en aanskou hoe ander ten minste bevoorreg is om daai “be my valentine”-kaartjie te ontvang. Saam met my simpatie kom ook my respek vir hoe mooi die groep die saak hanteer.
Gaan loer maar op sosialemedia-platforms. Party stuur sommer ’n aansoekproses (met CV) van stapel so ’n paar weke voor die tyd op soek na ’n valentyn. Wel, ek hoop van harte jy kry ’n paar kandidate vir jou kortlys hierdie jaar.
Wel, of jy nou uitgesorteer is met jou valentyn vir hierdie jaar of nie, watter kleur of vorm jou liefdesdag ook al mag aanneem, wil ek vertrou dat ons darem hierdie een dag in die jaar sal omarm vir wat dit werd is. Hierdie dag (ongeag die verkillende weergawes oor die herkoms daarvan), kan ons kies om die liefde in sy pragskakerings te vier.
Die vorme wat die liefde aanneem, is in elk geval soveel meer, beter en mooier as die eensydige kant wat ons in ’n post-modernistiese era mee te kampe het. Die Griekse woorde daarvoor is Eros (romantiese liefde), Storge (familie-liefde), Philia (broederlike liefde) en Agape (Goddelike liefde).
So, moenie moed verloor nie, daar is oorgenoeg liefde vir almal van ons. En daai Eros-liefde wat ons almal so na smag, is dalk binnekort jou deel ook!
En toe kom jy
Ek wou opgee, ingee, meegee
Die liefde dalk nie beskore vir my
Te lank gewag, gehoop, maar nee
Nog ’n Valentynsdag, liefdesdag verby…
Elke pot sy deksel, so word gesê
Wat van my . . .die pot se boom so byna pê
Toe my vrede, wat gebeur sal gebeur
Genoeg gewag, gehoop, beseer
En toe kom jy, heel ongevraagd
Verdryf my liefhê-droogte met die deel van ’n soen
En toe kom jy, heel ongevraagd
Bied my die deel wat siel en vlees versoen.
Hou moed kinta, jou beurt is op pad! Ek sê weer – die lewe is mooi. Punt.
,

