Met dié dat dit blyk dat daar geen einde in sig is vir die beurtkrag-krisis waarmee Suid-Afrikaners gelooi word nie, het die Wes-Kaapse departement van gesondheid einde September ’n versoek aan Eskom gerig om hospitale vry te stel van beurtkrag.
Die provinsiale minister van gesondheid en welstand, dr. Nomafrench Mbombo, het in September reeds ’n dringende inligtingsessie gehou oor die impak van beurtkrag op hospitale.
Paarl-hospitaal is ook een van die hospitale op die lys van aansoeke om vrystelling van beurtkrag. Hoewel goedkeuring vir vrystelling kort daarna vir vyf bykomende hospitale in die Wes-Kaap gegee is, is Paarl-hospitaal se aansoek nog nie goedgekeur nie.
Volgens die kommunikasiebeampte van die hospitaal, Leensie Lotter, loop die hospitaal se kragvoorsiening egter nie op ’n direkte Eskom-lyn nie en bemoeilik dit dus die situasie.
“Ongelukkig is daar nie ’n tydlyn bekend vir die res van die verloop van die versoek nie.”
Sy verduidelik dat herstelwerk gedoen is aan een van die hospitaal se kragopwekkers, nadat dit in Oktober onklaar geraak het, en daar is weer twee kragopwekkers in gebruik.
“ ’n Nuwe hoofkragopwekker is ook in die proses om by die hospitaal geïnstalleer te word. Die finansiering en projekbestuur hiervoor is egter die verantwoordelikheid van die Wes-Kaapse regering se infrastruktuur-departement.
“Dus, terwyl die koste nie ekstra stremming op die hospitaal se bestaande begroting plaas nie, is die hospitaalbestuur ook nie in beheer wat tydlyne vir installasie betref nie.
“Tans funksioneer die hospitaal met ’n hoof- en noodkragopwekker en word beurtkrag en al die komplikasies wat daarmee kan saamgaan doeltreffend bestuur sonder om dienslewering noemenswaardig te ontwrig,” sê Lotter.