Die Wellington-blokhuis langs die Ou Hermon-pad. Foto: Drakenstein Municipality/ Facebook

Toe die nasionale departement van openbare werke traag reageer op jare se pleidooie om die vervalle Wellington-blokhuis te herstel, het die Drakenstein-munisipaliteit en omliggende grondeienaars besluit om nie langer te wag nie. In ‘n voorbleed van samewerking tussen die munisipaliteit en die gemeenskap het hulle die saak in eie hande geneem en kragte saamgespan om dié eeu oue erfenisbaken te restoureer.

Die Wellington-blokhuis, wat aan die nasionale departement van openbare werke behoort, is ‘n bekende baken met groot erfeniswaarde en het vir geslagte stil langs die Ou Hermon-pad gestaan, maar die afgelope paar jaar het die gebou stelselmatig verwaarloos en vervalle geraak.

Om die Blokhuis in sy vroeëre glorie te herstel, het die Drakenstein-munisipaliteit (DM) in 2020 begin om met die nasionale departement van openbare werke te skakel, maar pogings om herstelwerk te doen, was tevergeefs. Die munisipaliteit het daarna Heritage Western Cape genader om ‘n noodherstelbevel uit te reik sodat hulle self die werk kon begin.

Heritage Western Cape het egter eerder ‘n verpligte herstelbevel aan die departement van openbare werke uitgereik – ook sonder sukses, volgens Seraj Johaar, die DM se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste.

“Heritage Western Cape het egter aangedui dat ‘n herstelpermit aan die DM uitgereik kan word sodra gedetailleerde tegniese inligting beskikbaar is. Intussen het die gemeenskap besluit om self in te tree,” het Johaar verduidelik.

‘n Groep omliggende grondeienaars het ‘n organisasie sonder winsbejag gestig en ‘n vyfjaarhuurkontrak by die departement van openbare werke verseker, met die doel om die Blokhuis te herstel. Die organisasie wag tans op die finale ondertekening van die kontrak, waarna die werklike herstel- werk kan begin.

Die organisasie het gesê hy sal die Drakenstein-munisipaliteit bystaan met die versameling van die nodige tegniese data vir die herstelpermit en finansiering verkry om die Blokhuis weer tot lewe te bring, volgens Johaar.

Die onderskeie rolle van die munisipaliteit en die organisasie sal later duidelik gemaak word, sodra Heritage Western Cape die vereiste herstelnota uitreik. Omdat hierdie nota nog nie uitgereik is nie, kan die DM nog nie ‘n begindatum vir die herstelwerk aandui nie.

Die baksteenblokhuise is tussen Wellington en Merriman (‘n klein dorpie in die Karoo) gebou om die Kaapstad-De Aar-spoorlyn tydens die Anglo-Boere-oorlog (1899 – 1901) te verdedig. Hierdie Britse versterkingswerke het as strategiese waarnemings- en wagposisies langs die roete gedien en is gevestig om die kritieke kommunikasie- en vervoerkorridor teen moontlike aanvalle of sabotasie te beskerm.

“Die blokhuise is deur die Royal Engineering Corps ontwerp en met plaaslike materiaal gebou. Die Wellington-blokhuis se bouwerk is as baie stewig en doeltreffend beskou,” het Johaar verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article