Goeie vordering word gemaak om toerisme in die vallei te bevorder. Foto: Drakenstein Municipality/ Facebook

Vordering rondom toerisme in die vallei is in die vooruitsig, met ‘n vergadering tussen die Drakenstein-munisipaliteit (DM) en belanghebbendes wat sowat twee weke gelede op 27 Mei plaasgevind het om die toerisme-adviesraad en konsep-toerismeplan te bespreek.

Verskeie belanghebbendes was teenwoordig by dié vergadering, insluitend David Frost, voorsitter van die Paarl se Belastingbetalersvereniging.

Volgens Frost word daar goeie vordering gemaak om toerisme in die vallei te bevorder. Hy is van mening dat die DM die gebrek aan ‘n toerismeplan in die vallei vir die eeste keer ernstig opneem.

Hy sê dat die stigting van die toerisme-adviesraad nog in die lug hang, en daar is minder sekerheid hieroor as oor die konsep-toerismeplan wat saam deur die DM en privaatsektor gehandhaaf moet word.

Volgens Frost is dit belangrik dat alle betrokkenes wat tans insae lewer oor die toerismesektor in die DM betrokke bly sodat daar vordering gemaak word.

Volgens Frost sal hy graag in die adviesraad wil dien, en glo dat sy agtergrond in bestuur ‘n verskil kan maak.

Hy het beklemtoon dat hoewel toerisme in die verlede nie veel aandag geniet het nie, die DM tans ‘n daad- werklike poging aanwend om die pendulum terug te swaai deur saam met die privaatsektor te werk.

“Ek dink die rede hoekom die DM in die verlede gesukkel het om toerisme in die gebied op die been te bring, is weens uiteenlopende sienswyses en geen samehorigheid tussen die munisipaliteit en privaatsektor nie.”

Seraj Johaar, DM se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het die vergadering van sowat twee weke gelede bevestig.

“Kommentaar op die konsep-toerisme-ontwikkelingsplan is steeds oop en sal op 20 Junie sluit. Sodra dit gefinaliseer is, sal die finale weergawe van die plan in September gepubliseer word,” sê Johaar.

Volgens Johaar sal die publiek in ‘n koerantadvertensie genooi word om aansoek te doen om in die toerisme-adviesraad te dien, met die proses wat teen September vanjaar afgehandel behoort te wees.

“Tans is die Paarl se toerismekantoor oop, terwyl die kantoor in Wellington teen Oktober sal open.”

“Die DM sal albei hierdie kantore bestuur,” sê Johaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article