Stephan Lombaard (Captain von Trapp) en Megan de Waal (Maria).


Verlede week se opvoering van The Sound of Musicdeur Hugenote Hoërskool word deur kenners bestempel as een van die mees professionele opvoerings wat nog deur ‘n Bolandse skool aangebied is.

Benewens dié hoogtepunt is die skool se nuwe astro-baan ook verlede Saterdag vir die eerste keer ingespan in ’n reeks wedstryde teen ’n buurskool.

The Sound of Music is die sesde musiekblyspel wat in die onlangse jare deur die skool aangebied word. Die opvoering het verlede Maandagaand in die skoolsaal begin en die laaste opvoering was Donderdagaand.

Besoekers het van heinde en ver gestroom om dié extravaganza by te woon en het gesorg dat die skoolsaal elke aand stampvol was.

Hierdie opvoering, die sesde musiekblyspel wat onder leiding van Johann Enslin deur die skool aangebied is, is deur kenners bestempel as ’n hoogs professionele opvoering wat splinternuwe standaarde stel vir musiekblyspele wat deur skole in die Boland aangebied word. Die sangers was deeglik afgerig met die choreografie deur Nicolene During behartig is en die regie deur Leandré Strömbeck.

The Sound of Music het Donderdagaand ten einde geloop en Vrydag het die skool sy nuwe astro-baan amptelik in gebruik geneem. Saterdag het die nuwe baan deel gevorm van ’n groot sportbyeenkoms tussen Hugenote Hoërskool en Worcester Gimnasium. Die twee skole se rugby-, netbal- en hokkiespanne het mekaar die stryd aangesê. Hugenote Hoërskool het in die rugby oorheers en gemengde sukses op die netbal- en hokkiebaan behaal.

Die res van die kwartaal sal steeds ’n baie bedrywige tyd vir Hugenote Hoërskool wees. Die skool se koor neem binnekort deel aan Applous, die koorwedstryd van die ATKV en gedurende die wintervakansie vertrek die koor op ’n uitgebreide toer na Namibië waar hulle op verskeie dorpe sal optree.

You need to be Logged In to leave a comment.