Met Oktobermaand wat Downsindroom-bewusmakingsmaand is, het Paarl Post met ’n plaaslike mamma gesels oor hul reis met hul dogtertjie, wat hierdie sindroom het.
Mariette Husselman, die mamma van die sesjarige Martinique, sê sy en haar man, Nicholas, het drie weke ná Martinique se geboorte bevestiging ontvang dat hul baba downsindroom het.
Mariette vertel hoewel sy al haar indiepte ondersoeke tydens haar swangerskap gedoen het, het haar dokters glad nie agtergekom dat hul ongebore baba downsindroom het nie.
Sy sê ná die geboorte het die pediater aan hulle genoem dat daar vyf tekens van downsindroom by Martinique voorkom, en een daarvan was dat sy nie bloedtoevoer na haar onderlyf gehad het nie. Maar met die tekens wat die pediater opgemerk het, kon hy nie finaal vir hulle sê dat Martinique wel downsindroom het nie.
Die volgende dag het die pediater weer by die gesin besoek afgelê en toe was dit nog moeiliker vir hom om duidelike tekens van downsindroom by Martinique te kry. Mariette sê die pediater het toe ’n tweede opinie van ’n ander pediater gevra, en ná nog ondersoeke kon albei dokters steeds nie met sekerheid vir hulle ’n antwoord gee nie, maar is besluit om eerder bloedtoetse te laat doen.
“Haar bloed is getrek en weggestuur om te bepaal of sy wel die ekstra chromosoom het wat met downsindroom gepaard gaan. Ná drie weke het ons gehoor sy het wel downsindroom.”
Mariette verduidelik dat die bloedtoevoer na Martinique se onderlyfie met verloop van tyd reggekom het. Hulle moes wel dadelik nadat hulle die bloedtoetsuitslae ontvang het, ’n skandering van haar hart laat doen, wat gewys het sy het twee gaatjies in haar hart en die hartklep lek. Martinique het op 13 maande ’n groot opehartoperasie ondergaan.
Sy is egter nou reeds vier jaar in ’n gewone kleuterskool, waar sy baie goed vaar. Mariette sê hoewel Martinique van haar mylpale ’n bietjie later as ander kinders bereik, funksioneer sy goed in die skool.
“Sy het op agt maande begin sit en hulle het vir my gesê sy gaan eers op 13 of 14 maande kan begin sit. Ek het so hard geoefen met haar om haar spiere aan die gang te hou, en dit is wat ek steeds doen. Sy loop en hardloop, so nou stimuleer ek haar brein elke dag. Ek is baie gefokus om vir haar die regte kos te gee.
“Sy vaar so goed, sy is op en wakker. Sy is vir ons normaal. Sy is vir ons niks anders as haar boetie nie. Sy word ook gedissiplineer soos haar boetie. Sy is ses jaar oud en sy het haar verantwoordelikhede. Sy trek self aan, borsel haar tande, pak soggens haar eie tassie en gaan sit dit in die motor.
“Ek weet dus dit wat ons doen, kan sy ook doen. Sy doen dit dalk net op ’n latere tydstip, maar sy kan dit doen.”
Volgens Mariette was die afgelope paar maande van Mei vanjaar baie moeilik met talle slapelose nagte en trane omdat Martinique nie in ’n hoofstroomskool plek gekry het om volgende jaar gr. R te begin nie.
“Haar onderwyser van verlede jaar en vanjaar en die sielkundige het verslae geskryf oor hoe goed sy vorder. En ek dink net hulle (skole) sien nie kans daarvoor nie, want ek dink hulle hoor net ‘downsindroom’ en dit is waar hulle vashaak. Dit voel niemand wil regtig ’n kans waag nie. En onthou – hulle (kinders met downsindroom) kan basies alles doen wat ons kan doen; hulle doen dit net eers later in hul lewe. Al wat bykom, is net geduld.”
Mariette sê sy glo haar dogtertjie sowel as ander kinders met downsindroom verdien ’n kans in ’n hoofstroomskool.
“Sy het daardie dryfkrag. Martinique – en ek glo baie ander downsindroomkinders – probeer regtig hul bes.”
Die Laerskool WA Joubert het die gesin onlangs laat weet Martinique kan volgende jaar daar in gr. R inval, waaroor die Husselman-gesin baie opgewonde is.
Om seker te maak Martinique is gereed vir volgende jaar, begin sy en haar mamma reeds voorbereiding vir gr. R doen.
Mariette sê haar mikpunt is om oor drie of vier jaar haar eie skool te open en kinders met gestremdhede wat die wilskrag het om te leer, te help om hul volle potensiaal te bereik.
Sy sê haar broer, wat in Amerika woon, sê dit is daar verpligtend dat ’n kind met downsindroom in ’n hoofstroomskool moet wees en die regering daar dra die koste van ’n fasiliteerder vir die kind.
“Ons hier is so, so agter. Toe ek op skool was, was daar klasse vir kinders met spesiale behoeftes in ’n hoofstroomskool, en daardie kinders kon steeds saam met die res van die kinders wees. Dit het egter heeltemal weggeval.”
Die gesin is opgewonde oor volgende jaar en is dankbaar dat ’n skool Martinique ’n kans gaan gee.
“Ons gaan hierdie nuwe reis voluit aanpak. Ons sal baie graag die weg wil baan vir ander ouers wat ook ’n kind met downsindroom het.”


