Shoprite in die Paarlse-middedorp is geleë op die hoek van Van der Lingenstraat en die Bergrivier-boulevard. Foto: Jana Scheepers


’n Onlangse bevel van die Kaapse hooggeregshof het om en by 15 informele handelaars by die Shoprite-winkelsentrum in die Paarl die trekpas gegee.

Dié winkelsentrum is geleë op die hoek van Van der Lingenstraat en die Bergrivier-boulevard en word bestuur deur die David Newham-eiendomsgroep, wat die aansoeker vir die hofbevel is.

Ingevolge die hofbevel, wat Paarl Post onder oë gehad het, is ’n interdik toegestaan teen die informele handelaars om nie in die toekoms op die perseel handel te dryf of enige strukture op te rig vir die doel om handel te dryf nie.

Die interdik het ook beveel dat die handelaars onmiddellik hul stalletjies moes oppak. Die eerste respondent in die saak is die 15 informele handelaars, met die tweede en derde respondente onderskeidelik die Drakenstein-munisipaliteit en die Paarl-polisie.

Volgens Elhaam Frazenburg, een van die informele handelaars, het hulle die hofbevel verlede week Dinsdag (6 Augustus) deur die balju ontvang en ’n dag later is hulle deur die Drakenstein- munisipale wetstoepassers en die Paarl-polisie gevra om hul stalletjies op te pak. “Ons staan nou al meer as 20 jaar hier [by Shoprite],” het Frazenburg gesê.

Volgens haar het die hofbevel die handelaars verras en nie tyd gegee om op ’n ander plek te hervestig nie.

Frazenburg het verduidelik dat die informele handelaars geldige permitte het wat elke jaar in Junie hernu word en hulle toerus om in Newstraat handel te dryf.

Nietemin, omdat daar nêrens in dié straat plek is nie, het die handelaars op hul gewone plek van die afgelope 20 jaar gebly, waar hulle kruideniersware soos vrugte en groente of winterklere verkoop het.

“Die [Drakenstein-] munisipaliteit ondersoek tans alternatiewe geskikte en afgebakende handelsruimtes [vir die informele handelaars] binne die Paarl se sentrale sakegebied,” volgens Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste.

“Die munisipaliteit het ’n informele handelsverordening wat informele handel op munisipale afgebakende gebiede reguleer,” volgens Johaar.

“Informele handel word binne die jurisdiksiegebied van die munisipaliteit toegelaat, onderhewig aan enige handelsbeleid wat deur die munisipaliteit aanvaar word – in [die] Drakenstein-munisipaliteit se geval is dit die informele handelsbestuursbeleid en die bepalings vervat in die informele handelsverordening, asook enige ander toepaslike wetgewing,” het hy bygevoeg.

Frazenburg het gesê sy en die res van die informele handelaars wat deur die hofbevel geraak word, soek alternatiewe plek om hul stalletjies op te rig waar daar genoeg “voete” is vir hulle om ’n inkomste te verdien.

“Die munisipaliteit wil mense in die Bergrivier-boulevard sit, maar daar kom nie mense nie, so ons sal nie geld maak nie,” het Frazenburg verduidelik.

Sy en die res van die handelaars is ongelukkig oor die hofbevel, en het aan die koerant verduidelik dat hulle al langer as 20 jaar lank ’n gedeelte van hul inkomste terugploeg in Shoprite waar hulle kruideniersware koop met die geld wat hulle as informele handelaars maak.

Volgens Frazenburg sal sy ’n ander staanplek vir haar stalletjie aanvaar, mits dit in ’n besige gebied is waar klante haar sal ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.