Skynon Bailey (17) Foto: Verskaf


Die LK Zeekman Sekondêre Skool-gemeenskap in die Paarl is in rou gedompel nadat Skynon Bailey (17), ’n gr. 10-leerder, Saterdagaand (2 Maart) by ’n verjaarsdagpartytjie in Wellington doodgeskiet is.

Skynon se ma, Juilicia Wicklow, het vandeesweek aan Paarl Post gesê baie onduidelikheid heers nog oor wat presies daardie aand gebeur het.

“Skynon sou aanvanklik ’n ander partytjie daai aand hier in die Paarl bygewoon het, maar sy vriende daar in Wellington het hom oortuig om daai een by te woon. Hy het ook gesê hy’t hulle lanklaas gesien en wou graag die aand in Wellington deurbring.

“Dit was seker so net ná elf toe die polisie hier by ons huis stop met die tyding. Ons is dadelik na die toneel met die polisiebakkie wat voor gery het,” vertel sy.

Paarl Post verstaan ’n onderonsie het by die partytjie uitgebreek.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, is Skynon se lyk met die polisie se aankoms in die straat aangetref.

’n Patroon, vermoedelik afkomstig van die vuurwapen wat tydens die voorval gebruik is, is volgens Barkhuizen sowat sewe meter van waar die lyk gelê het, gevind.

Barkhuizen sê die omstandighede oor die voorval word ondersoek en ’n moordsaak word ondersoek.

Skynon se ma sê hy was ’n rustige mens, daarom kan sy nie verstaan hoekom iemand haar seun sou skiet nie.

“Hy was ’n ontsettende lieflike kind. Ons het ons stryery by tye gehad, maar hy het nooit probleme veroorsaak nie.

“Ons was gister (Maandag) by sy ou skool in Wellington en selfs daar het sy oud-onderwysers gesê hy was een van die ordentlikes. Hy het nooit teruggepraat nie, hy het geluister na sy onderwysers en was nooit in die kantoor nie.”

Sy sê haar twee ander kinders, Riley (9) en Robyn (3), verwerk nog die hartseer feit dat hul ouer broer nie weer by die deur gaan instap nie.

“Hy en sy sustertjie (Robyn) het maar eers onlangs werklik begin bond. Sy was in die laaste tyd baie erg oor hom. As hy smiddae ná skool met die hond gaan stap het, het sy dikwels aangedring om saam met hom te gaan stap.

“Sy het baie vrae oor waar Sky is en wat met hom gebeur het. Haar drukkies het my tot dusver baie gehelp. Sy sal ook toiletpapier gaan kry om my trane af vee.”

Die LK Zeekman Sekondêre Skool het in ’n Facebook-inskrywing gesê hulle bid vir versterking vir Skynon se familie.

“Ons vra dat God ons almal deur hierdie tyd sal versterk. Ons doen ’n beroep op ons breë LK Zeekman-familie om hierdie familie in hul tyd van rou in gebed op te dra,” lui die inskrywing.

Skynon word Saterdag (9 Maart) ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article