Dankbaar vir Paarl Post se realistiese evaluering:
“Met stygende kostes uit alle oorde die afgelope jaar gaan inwoners van die Drakenstein gewis swaar sluk aan die tariefverhogings.”
Die burgemeester het ’n “utopie voorgehou, maar Ratings Africa het Drakenstein nie eens onder die eerste vyf in die Wes-Kaap vir most financially stable municipalities getakseer nie – naas die Metro het George, Mosselbaai, Saldanha en Swartland die DM uitgestof. Selfs Bonnievale het Drakenstein in die Kwêla Dorp van die jaar-kompetisie uitgeskakel – duidelik was te min inwoners en belastingbetalers in Drakenstein entoesiasties genoeg om in te bel!
Eiendomsbelasting word verder verhoog ná die massiewe 2019-waardasie-verhoging van 19%, wat ’n 12 tot 27%-verhoging in 2022-’23 beteken het – genoeg om Drakenstein vir vyf jaar te dek. Die cR-formule in Drakenstein is 0,00711 teenoor Kaapstad se 0,006344.
Vullisverwydering se 6,9%-verhoging beteken die huidige R373 per maand styg tot R399 – om vullisdromme leeg te maak. Vergelyk dit met Kaapstad se R149 en Hermanus se R213 per maand. En – die dromkrappersage duur voort.
Salarisse van munisipale amptenare a la Salga verhoog met 5,4% plus kerfverhogings van 2,4% – dus 7,8%. In die private sektor het die wat gelukkig is gemiddeld 3,9% verhoging gekry, en baie nie ’n sent nie. Dit blyk gesog te wees om vir ’n munisipaliteit te werk en die belastingbetalers, van wie baie pensioentrekkers is, en baie sonder verhogings, net moet opdok.
Dit word belaglik dat 40% betaal vir die 60% wat geen bydrae maak nie, terwyl die 40% bo en behalwe deur Sars vir nasionale en provinsiale funksies soos maatskaplike welsyn en vestiging belas word, en dan nog munisipaal verder moet bydra. Ons wag nou in spanning vir aksieplanne om verstedeliking en wetstoepassing te hanteer. Die City of Excellence het toe nie so goed excel nie!