Die verbruiker word steeds met stygende voedselpryse gepeper.
Die pryse van basiese goedere soos aartappels, uie, melk, rys en suiker het die afgelope ses maande die hoogte in geskiet.
Volgens Netwerk24 se inflasiemandjie het dit in die ses maande van Januarie tot Junie met slegs 3,1% gestyg, maar dit is veral kos in dié mandjie wat verbruikers se oë laat traan.
Die prys van ’n pak uie (1 kg) het in dié tyd met 6,9% gestyg en van ’n sak aartappels (2 kg) met 11,5%.
’n Komkommer is 26,3% duurder, terwyl ’n sak botterskorsies (3 kg) se prys met 25,7% gestyg het.
Die prys van pitlose wit druiwe (500 g), bloubessies (125 g) en aarbeie (250 g) het met onderskeidelik 53,1%, 45,8% en 8,1% gestyg. Dit word toegeskryf aan seisoensgebondenheid en kleinhandelaars wat dié vrugte buite seisoen invoer.
Daar is wel ook goeie nuus vir verbruikers. Die pryse van varsprodukte soos avokado’s en blaarslaai het met onderskeidelik 43,3% en 16,3% gedaal.
In die suiwelafdeling was daar skerp prysstygings. Die prys van ’n bottel vars volroommelk (2 liter) het in ses maande met 14,3% gestyg en langlewe-volroommelk (1 liter) is 4,8% duurder. Fetakaas (400 g) se prys het met 17,6% gestyg. Ook onder droë bestanddele het pryse skerp gestyg. Witrys (2 kg) is 10,9% duurder en witsuiker (1 kg) 26,8% duurder.
Ander prysstygings in dié afdeling:
. Bevrore pizza (margherita): 12,3%;
. Bruinbrood: 9,6%;
. Witbrood: 7,6%; en
. Koekmeelblom: 5,6%.
Vleis en vis
Daar was verligting vir verbruikers wat vleispryse betref.
Varktjops (per kg) het in die ses maande tot Junie met 12% gedaal en die prys van ’n hoender-sterpak (per kg) met 6,2%.
Verwerkte vleissoorte, wat meer krag vereis en waarop beurtkrag dus ’n beduidende invloed het, se pryse het drasties gestyg.
Spek (repies, 200 g) se prys het met 15,5% gestyg en salami (100 g) s’n met 18,2%.
In Junie was bevrore gekrummelde stokvis 21,5% duurder as in Januarie.
Toiletware en skoonmaakmiddels
Ook in dié afdeling het die prys van sekere produkte skerp gestyg.
Deodorant vir vroue (150 ml) se prys het met 18,4% gestyg en dié van tandepasta met 23,1%.
’n Skottelgoedsponsie is 41,6% duurder.
Afgesien van bleikmiddel (750 ml), waarvan die prys met 5,3% gedaal het, het al die ander goedere in die toiletware- en skoonmaakmiddels-afdeling se pryse gestyg.
.
Bron:
Netwerk24