Van kindsbeen af word jy geleer – of is jy veronderstel om geleer te word – oor die drie kleure van ’n verkeerslig.

My aanname dat elkeen – jonk en oud – wéét wat elke kleur voorstel, is foutief.

Dít word daagliks bewys deur die hoeveelheid mense wat die pad gedwee oorsteek terwyl die “rooi mannetjie” kristalhelder is. Ek verwys hier veral na die strate in die middedorp wat aan Lady Grey-straat grens.

In die VSA sal jy summier in hegtenis geneem word vir “jaywalking” en in Europa is ’n stewige boete jou voorland.

Hoekom verontagsaam so baie Suid-Afrikaners dan hierdie eenvoudige reël? Waar is ons sin vir wetsgehoorsaamheid en respek vir voertuie? Waar is die wetstoepassers om seker te maak die padreëls word gehoorsaam?

Dalk is ons nasie se voetgangers onder die wanindruk dat die pad slegs aan hulle behoort en dat hulle altyd voorkeur móét kry.

Met ’n geskiedenis van padwoede onder Suid-Afrikaners, is opvoeding en verantwoordbaarheid oor hierdie kwessie dringend nodig.


Lindsay Jefthas,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.