Met verwysing na brief van gevangenes wat in die Paarl Streek-kompetisie speel:
Die skrywer noem in ander provinsies neem gevangenes as ’n klub in klub-kompetisies deel as deel van hul rehabiltasieproses, maar in Paarl-streek is die gevangenisse deel van Violets en Allandale se derde span. Hoekom stig DKD ook nie hul eie klub en neem deel as ’n klub in ’n WP-kompetisie nie, want dan sal die verwysing na rehabilitasie van gevangenes regverdig wees en nie ander bybedoelings het wat met die vergunning van DKD bevorder word.
Terwyl ander klubs in die Paarlstreek en ander kompetisies van WPRFU spelers moet soek en werf, selfs buite die Paarl, of plakkerskampe moet ingaan om genoegsame spelers te werf, gebruik hierdie klubs die loophole, geskep deur die DKD, om gevangenes te gebruik onder die voorwendsel van rehabilitasie.
Saterdae word hierdie spanne op staatsonkoste vergesel deur verskeie korrektiewe personeel, wat vergoeding /oortyd daarvoor ontvang, en nie eens hekgeld betaal nie, terwyl die meeste ander klubs se administrateurs moet betaal, spelers teen eie koste aanry en in baie gevalle geld moet bestee om vir spelers iets te ete te koop.
Terwyl hierdie klubs fokus op “rehabilitasie” is Young Standards en ander klubs daarop ingestel om gemeenskapsrugby binne die Paarl-gemeenskap te bevorder. Violets en Allandale fokus net op so 50 spelers terwyl ander klubs op 75 spelers moet fokus. WP se reël is baie duidelik – as klubs nie drie spanne kan verskaf nie, moet hulle in ’n spesiale liga speel en terwyl die aansoek van Perel United, ’n landelike klub wat van gevangenes gebruik wil maak, van die hand gewys is, is Violets se versoek goedgekeur.
Is dit omdat ’n sekere bewaarders op klubs se bestuur is?
Ander klubs in die Paarl- en WP-ligas sukkel ook om volledige spanne te kry, maar hoekom word gevangenes nie aan daardie klubs toegeken as rehabilitasie die verwysing is?
Volgens WPRFU se reëls is dit reg dat klubs punte ontvang as ander klubs nie volle spanne het nie. Baie van die misdade is binne die gemeenskap en teenoor ons eie gemeenskapslede gepleeg.
Standards en baie ander klubs se fokus is eerder om spelers buite die strukture van gevangenes te hou as om spelers te rehabiliteer wat in ’n gevangenis is vir ’n rede, en dié klubs sal klubs eerder wil aanmoedig om op gemeenskapsrugby te fokus of om DKD-strukture te gebruik om jong spelers oor die lewe binne die gevangenisopset te leer en te ontmoedig om misdaad te pleeg.
Die vraag is hoeveel van die spelers wat gerehabilteer is, is nog betrokke by rugby of is skeidsregters of rugby- administrateurs soos deur die skrywer genoem, of is dit nie die doel nie, maar eerder persoonlike gewin?
Laastens wil Young Standards net bevestig dat hy wel in 2023 teen Allandale se gevangenis-span in ’n vriendskaplike wedstryd gespeel en geweier het om in die tweedespanuitkloptoernooi teen Violets te speel omdat die vergunning was dat slegs Violets se derde span aan WP-kompetisies mag deelneem.
Vanjaar het Standards ook die opsie uitgeoefen om nie teen gevangenes te speel nie totdat die DKD die regte prosedure volg en soos in ander provinsies as ’n affilieer- klub registreer.
Standards sal ook sy opsie oophou om uit die Paarl-streekkompetise na ’n ander streek te beweeg waar geen gevangene-spanne speel nie, wat ook een van die redes is wat ander klubs aanvoer hoekom hulle uitbeweeg het of gaan uitbeweeg of nie in die Paarl-streekkompetisie wil speel nie.