Die kwessie van geweldige vertragings in die goedkeuring van bouplanne by die Drakenstein-munisipaliteit het weer kop uitgesteek.

Ontwikkelaars, bouers, argitekte en dies meer is behoorlik keelvol vir die geweldige rompslomp by die munisipaliteit as dit kom by die goedkeuring hiervan.

En ten spyte van ’n opgegradeerde stelsel wat die goedkeuring van planne behoort te bespoedig, meen diegene in die boubedryf dat die goedkeurings­proses tans die stadigste ooit verloop.

Hierdie vertragings het ’n daadwerklik negatiewe impak op die bedryf in die geheel.

Dit veroorsaak agterstande in ontwikkelings omdat mense nie die planne kan kry wat hulle nodig gehad het om met die konstruksie voort te gaan nie.

Dit het dus ’n geweldige uitwerking op die beplanning van kontrakteurs wat ander projekte van die hand gewys het om die projek te voltooi en dies meer.

Hierdie lei ook tot werksverliese wat tans nie bekostig kan word in ’n baie moeilike ekonomiese klimaat nie.

Dit is maar net van die negatiewe impakte hiervan. Sekerlik kan ’n stad van uitmuntendheid, soos Drakenstein homself voorgee, hierdie planne prioritiseer en daarop fokus om al hul vaardighede te gebruik om die goedkeuring van bouplanne te bespoedig.

You need to be Logged In to leave a comment.