Die hemele het die afgelope tyd behoorlik oopgemaak en veral vandeesweek sy tande gewys.
Terwyl swaar, aanhoudende reën Dinsdagnag deurnag neergestort het, kon ’n mens nie help om wakker te lê en wonder hoe lyk dinge in die minder bevoorregte gedeeltes van die dorp nie, waar duisende mense in informele wonings woon, baie van hulle juis in laaggeleë gebiede.
Maar Dinsdagoggend is die hele dorp tot stilstand geruk toe almal letterlik met hulle voet-uit-die-bed-tot-in-die-water beland het. Talle paaie is oorstroom, fabrieke en ander werksplekke is oorstroom en die skade hiervan sal seker eers oor ’n hele paar dae bepaal word.
En tyd vir uitdroog gaan daar nie veel wees nie, want nog reën is op pad en die winter is nog in sy begin stadium.
Redes vir die oorstromings is veelvuldig. Diegene in die plaaslike landboubedryf sê die departement van waterwese moes vroeër water stelselmatig uit die dam laat loop het en moes nie tot op die nippertjie gewag het nie.
Dan ook is Paarl daarvoor bekend dat verstoppings en des meer in hul riool- en watervloeiestelsels plaasvind.
’n Mens kan nie help om te wonder watter gereedheids- en voorsorgmaatreëls deur DM getref word om te verseker dat als in plek is vir wanneer die hemele weer oopmaak en die riviere vol loop nie.