Brig. Mzwandile Tiyo, voormalige Wes-Kaapse misdaadintelligensiehoof wat voor dit ook polisiehoof van die Paarl-polisiekantoor was. Foto: Argief


Brig. Mzwandile Tiyo, ’n voormalige bevelvoer­der van die Paarl-polisiekan­toor en toe misdaadintelli­gensiehoof van die Wes-Kaap, word glo intern én strafregtelik ondersoek oor bewerings dat hy en twee ander beamptes hul mag misbruik het deur verdagtes, wat glo sy dienspistool en rekenaar in Mbekweni gesteel het, self op te spoor en hulle aangerand het.

Paarl Post verstaan dat Tiyo en sy twee medebeskuldigdes – wat ook verbonde was aan die polisie se misdaadintelligensie- eenheid in die Wes-Kaap – deur aanklagte van onder meer ontvoering en aanranding in die gesig gestaar word.

Volgens Ian Cameron, die teenmisdaad-aktivis en ’n lid van die DA, hou die aanklagte verband met ’n voorval by ’n taverne in Mbekweni aan die einde van verlede jaar toe Tiyo se dienspistool en skootrekenaar glo uit sy voertuig gesteel is.

Tiyo het volgens Cameron nooit die diefstal by die polisie aangemeld nie.

“Daar word beweer dat hy sy amp en staatshulpbronne gebruik het om die ‘verdagtes’ op te spoor, te ontvoer, aan te rand en hulle daarvan beskuldig het dat hulle die vuurwapen en skootrekenaar uit sy voertuig gesteel het,” het Cameron vandeesweek in ’n Facebook-inskrywing gesê.

Tiyo is glo daarna na ’n polisie-afdeling in Gauteng oorgeplaas, sê Cameron.

City Press het in Desember verlede jaar berig dat Tiyo ’n brief gegee is waarin hy oor die beplande skorsing ingelig is.

Hy is glo tot 22 Desember 2023 gegee om redes te voorsien hoekom hy nie geskors moet word nie.

Brig. Athlanda Mathe, ’n nasionale polisiewoordvoerder, kon nie vandeesweek by navraag aan Paarl Post sê of Tiyo en sy twee mede- beskuldigdes se skorsing wel deurgevoer is en watter aanklagte hulle in die gesig staar nie.

“Ons lewer nie kommentaar op interne dissiplinêre kwessies en aktiewe ondersoeke wat aan die gang is nie,” het sy in ’n WhatsApp-boodskap gesê.

Gillion Bosman, ’n DA-LPW belas met polisieaangeleenthede, het by navraag aan Paarl Post gesê Tiyo se beweerde optrede benadeel die verhouding wat die polisiediens met gemeenskappe probeer handhaaf.

“Sy beweerde gedrag dui op ’n gevoellose minagting van die gewig wat sy amp dra. Sy onverantwoordelike optrede maak dit duidelik dat hy nie geskik is vir die amp nie.”

Bosman het bygevoeg “indien die bewerings waar is, dan is hierdie beslis ’n strafregtelike aangeleentheid en moet dit so hanteer word”.

“Die nalatige verloor van vuurwapens, aanranding, ontvoering en misbruik van staatshulpbronne is alles ernstige misdade en moet tot die volle omvang vervolg word – veral as die beweerde oortreder ’n individu is wat veronderstel is om van beter te weet.”

Hy sê “dis selfs meer skokkend dat dit wil voorkom asof die polisie nou alle pogings aanwend om die voorval toe te smeer”.

“Hoe kan die polisie, as ’n nasionale regeringsentiteit, daarop aanspraak maak dat hulle misdaad bekamp, maar hulle kan dan nie misdadigers binne sy eie geledere in hegtenis neem en vervolg nie?

“Dit is geen wonder dat die publiek se vertroue in die polisie tot ’n allemintige laagtepunt gedaal het nie en dat die polisie se beeld in ons gemeenskappe verby die punt van rehabilitasie geskaad is.”

Ian Levitt, wat nog in Desember as regsverteenwoor­diger vir Tiyo gedien het, het by vorige navraag aan City Press gesê sy kliënt ontken die bewerings.

Hy sê sy instruksies is om teen die aanklagte te baklei.

Levitt kon nie vandeesweek telefonies bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.