HMS La Rochelle se atlete het die afgelope twee naweke geskiedenis gemaak deur eerste plekke in die meisiesafdeling by beide die UWC Fairmont Top-15- (op 5 Oktober) en Kwagga Top-10-atletiekbyeenkoms (op 12 Oktober) te behaal.
Hierdie merkwaardige prestasie getuig van die atlete se toewyding, harde werk en uitmuntende dissipline, wat hulle as ware kampioene op die baan gevestig het.
Die hele span se deelname en gesindheid was indrukwekkend, met elke atleet wat haar bes gedoen het om die skool se trots hoog te hou.
Spesiale erkenning gaan aan Enya Binneman, wat twee naweke ná mekaar as die beste o.15-atleet aangewys is.
Binneman se prestasies, volharding en deursettingsvermoë het haar as ’n uitstekende atleet uitgesonder en dien as ’n inspirasie vir al haar spanmaats.
HMS La Rochelle se atletiekspan se sukses weerspieël nie net dié span se besonderse talent nie, maar ook die sterk skoolgees en die ondersteuning wat hulle van afrigters, ouers en die skoolgemeenskap ontvang.
Met hierdie oorwinnings het HMS La Rochelle gewis ’n blywende indruk gemaak en almal sien uit na verdere prestasies in die atletiekseisoen wat nou maar eers begin het.