JC Mars van die Hoër Jongenskool is as Skoolseun-speler van die Jaar by die Westelike Provinsie en Stormers se prysuitdeling vir 2023 aangewys.


Onthou die naam JC Mars – hy gaan nog diep spore in die rugbywêreld trap.

Hierdie vlugvoetige heelagter van die Hoër Jongenskool Paarl is verlede week as Skoolseun-rugbyspeler van die Jaar by die Westelike Provinsie en Stormers se prysuitdeling vir 2023 vereer.

Dit is welverdiend aangesien Mars reeds lankal beskou word as ’n skoolseun-rugby-wonderkind.

Mars het verlede jaar sy eerstespan-buiging vir Boishaai gemaak en op die rug van sy briljante vertonings vir sy skool, het hy keuring vir die Westelike Provinsie se Cravenweek-groep en die SA Skolespan gewen.

Mars het vroeër vanjaar groot opspraak gemaak vir ’n fenomenale solo-drie wat hy vir Boishaai teen Selborne by die KES Paasfees gedruk het.

In vanjaar se Interskole-kragmeting teen Paarl Gimnasium het hy byna toegesien dat Boishaai die wa deur die drif trek nadat Gim ná die eerste helfte goed voorgeloop het.

Hy het ook ’n skitterende rol gespeel in die SA Skole-span se oorwinning oor Engeland by Paarl Gimnasium vroeër vanjaar.

Hierdie blitsige heelagter wikkel dikwels moeiteloos verby die verdediging en word met die haastige Springbok Cheslin Kolbe vergelyk

Hy het ’n kontrak met WP-rugby losgeslaan en sluit reeds vroeg in die nuwe jaar by hulle aan. Hy is ook van plan om sy sakestudies aanlyn te doen.

Mars het aan Paarl Post vertel hy is baie opgewonde oor sy rugbypad vorentoe. Hy het veral lof uitgespreek vir die Hoër Jongenskool Paarl, wat hom deurgaans met sy rugby gehelp en ondersteun het.

“Deur my te leer om ander spelers in ’n beter posisie te plaas en om nie vir myself te speel nie, maar vir die span, het ek as speler en as mens gegroei.

“Hulle het my aangemoedig om altyd hard te werk vir wat ek wil bereik en om altyd my bes te doen en my span in moeilike tye te motiveer. Ons is almal broers en staan saam – ook in moeiliker tye.

Boishaai se eerstespanrugbyafrigter, Sean Erasmus, het gesê Mars het die talent en die temperament om dit nog ver te bring – veral as ’n professionele speler.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article