Medelye stroom in van alle oorde nadat die nuus van die afsterwe van Willem Erwee, wat die bemarkingspan van Hoër Jongenskool Paarl gelei het, bekendgemaak is.
Volgens ‘n verklaring wat die skool uitgesit het is Erwee Vrydag (20 Junie) oorlede. Die oorsaak van sy dood is op die oomblik nog nie bekend.
“Deur sy stil leierskap en standvastige karakter het hy vir ons – sy familie, kollegas, studente en die breër gemeenskap – gewys wat dit werklik beteken om ‘n betekenisvolle lewe te lei,” skryf die skool toe hulle die hartseer nuus van hul kollega se dood op hul Facebook-blad deel.
“Vandag betreur ons die verlies van ‘n buitengewone opvoeder, mentor en vriend. Tog, selfs in ons hartseer, eer en vier ons ‘n lewe wat ‘n blywende indruk op ons almal gelaat het.
Alhoewel ons harte swaar is, bly ons innig dankbaar vir die tyd wat ons met mnr. Erwee gedeel het. Sy waardes, sy visie en sy vrygewige gees is in die weefsel van Hoër Jongenskool Paarl ingeweef, en sy nalatenskap sal ons steeds inspireer.”
Baie mense is geskok oor die skielike afsterwe van Erwee. Een Facebook kommentaar lui: “Wat ‘n ongelooflike skok! Ek het een week terug nog met Willem gesels. ‘n Absolute Boishaai gentleman. RIV Willem.”
Die skool het verder hul medelye met Erwee se geliefdes gedeel.