Terwyl Wellingtonners kliphard besig is met ’n interne geveg oor die voor- en nadele van ’n verbrandingsoond vir afvalmateriaal, het een van Wellington se bekendste nywerhede ’n unieke plan in werking gestel om ontslae te raak van die afvalmateriaal in hul fabriek.
Sedgwick, die wêreldbekende whiskymakers van Wellington, het ’n nuwe Noorweegse uitvinding – ’n hitte-enjin wat elektrisiteit met behulp van verhitte afvalmateriaal opwek – by hul whiskystokery in Wellington laat installeer.
Die hitte-enjin, wat reeds met groot sukses in Europa en verskeie oorsese lande gebruik word, is pas vir die heel heel eerste keer in Afrika by Sedwick se whiskystokery in Wellington in werking gestel.
Die hitte-enjin word deur afvalmateriaal uit die fabriek aangedryf en kan goedkoop en maklik elektrisiteit vir eie gebruik opwek.
Omdat die enjin in Noorweë ontwikkel is, het die Noorweegse ambassadeur in Suid-Afrika verlede week spesiaal na Wellington gereis om die eerste hitte-enjin in Afrika by Sedgwick se stokery in Stokeryweg aan te skakel.
Volgens Jasper Cloete, besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse maatskappy wat die enjin by Sedgwick opgerig het, kan hitte-enjins met groot vrug deur tientalle Suid-Afrikaanse ondernemings gebruik word om van oortollige afvalmateriaal ontslae te raak en terselfdertyd goedkoop elektrisiteit vir eie gebruik op te wek.
* Wellington’s famous distillery, Sedgwick, installed a heat engine, manufactured in Norway, that burns waste material to produce energy.