Die ou historiese muur van die Toringkerk se kerkhof in Bergrivier Boulevard in die Paarl het ná 100 plus jaar meegegee.Foto:


Die historiese begraafplaasmuur van die Toringkerk langs die Bergrivier het die afgelope naweek omgetuimel – waarskynlik weens die afgelope winter se baie nat weer.

Die muur is nog die oorspronklike muur van die ou kerkhof en word op meer as 150 jaar oud geskat.

Neels Visser, die koster van die Toringkerk, het gesê die muur van bykans 30 m lank het heeltemal omgeval.

Hy het gesê ’n baie lang pad vir herstel lê nou voor.

Visser sê tekens dat die muur begin skuins leun, het reeds ’n geruime tyd gelede verskyn en hulle het hul bes probeer om die muur in stand te hou.

“Die afgelope winter se uiters nat weerstoestande het egter erg tot die agteruitgang van die muur bygedra.”

Die kerk is nou bekommerd dat die kerkhof deur haweloses binnegeval gaan word.

Hulle ondervind al jare lank ’n probleem hiermee asook met graf-vandalisme.

Die muur het egter voorheen in ’n mate daartoe bygedra dat ongewenste karakters uit die kerkhof bly.

You need to be Logged In to leave a comment.