Die historiese bruggie wat oor die Kompagniesrivier op die Bo-Hermon-pad loop, staan tans op die rand om deur die departement van vervoer tot niet gemaak te word.
Die brug is ’n kern-oorgang op hierdie pad wat die historiese skakel is tussen die eertydse sendingdorpie Hermon en die dorp Wellington totdat dit in die jare vyftig deur die konstruksie van die R44 vervang is.
’n Brug is in 1924 gebou om die Kompagniesrivier oor te steek, maar volgens die Wes-Kaapse departement van vervoer is die brug nou struktureel onstabiel en dus het hulle die pad om hierdie rede vir openbare gebruik gesluit.
Die departement is dus van mening dat die brug gesloop moet word.
Maar omdat die brug meer as 60 jaar gelede gebou is, moet aansoek eers by die provinsiale erfenisowerheid, Erfenis Wes-Kaap (EWK), gedoen word vir die totale sloping van dié struktuur.
Jare lange inwoners van die gebied meen egter daar is niks fout met die fondasie van die brug nie. Die kante van die brug is wel deur vragmotors beskadig. Hulle voel dit behoort as historiese baken behoue te bly en dat dit eerder gerestoureer moet word.
’n Knelpunt vir inwoners hier, en wat bydra tot die brug se skade, is die skielike toename van groot vragmotors wat die brug en pad in die algemeen gebruik om heen en weer van ’n groot pakstoor te ry wat hier aangebring is.
Die pad was eens ’n rustige, landelike plaaspad en het nog nooit sulke groot vragmotors gehad wat hier heen en weer ry nie.
Een van die voorstanders van die behoud van die brug, Piere-Jean Gerber, het ’n versoek aan die departement gerig om die sloping te heroorweeg.
Hy voer aan dat die brug groot potensiaal het as ’n toeriste-aantreklikheid aangesien die roete as ’n baie gewilde stap- en fietsryroete ontwikkel word.
Hierdie is onlangs bewys met die baie suksesvolle Old Hermon Gravel Ride-fietswedren wat van Welbedacht op die roete plaasgevind het, met meer as 900 deelnemers.
Gerber sê die ideaal sal wees as die brug vir fietsry en voetgangers gerestoureer kan word en ’n nuwe brug eerder langs die historiese brug gebou word.
Hy sê verder daar is vrywilligers wat betrokke sal raak by die herstel van die brug en dat daar genoeg ruimte in die pad-reserwe is om die aangrensende nuwe brug te bou.
“Die basiese struktuur is in ’n baie goeie toestand, dit is slegs ’n klein stukkie van die oprit-oppervlak (1 m²) wat gerestoureer moet word vir fietsryers en stappers.
Maar die departement voer aan dat die brug onherstelbaar is en dat dit min of geen historiese betekenis het nie en gesloop moet word.