Hillcrest se Shedick Benjamin voer een van sy blitsige lopies uit teen Wellington.Foto: Roswall de Vries


Die afgelope naweek het Hillcrest United sy wenlopie voortgesit deur vir Wellington-rugbyklub ’n rugbyles in hul eie agterplaas te gee.

Hillies het seker gemaak dat hulle drie wedstryde wen: die derde span wen met 28-3, die tweede met 30-10 en die eerste met 68-17.

Die besoekers het weer tipiese Hillies-rugby opgedis deur kliphard voorlangs te werk en die bal goed te versprei, wat die geleentheid vir die agterlyn gebied het om tien drieë te druk.

Voor het die kaptein, Carlon Carolissen, Geoffrey Allies, Conroy Eiman en die plaasvervanger Trevino Pietersen sterk balgedra.

Die jong haker Keanu Adonis was rotsvas op verdediging terwyl Preston Leibrand die tuisspan frustreer het by die losgemale. Agterlangs was Hillies briljant.

Die skakelkombinasie van Gilton Mangena en Devito Pietersen was dodelik en hulle kon die senters Kieran Dreyden, HR Claasen en Shedick Benjamin – wat Dreyden vroeg moes vervang – tesame met Mitchell Jacobs (heelagter) goed in ’n spasie sit om Wellington se verdediging deur te dring.

Mangena is ook met ’n 50-meterdrie beloon.

Goeie afrondingswerk deur die vleuel Curtley Swanepoel het die skare op hul voete gehad.

Die kersie op die koek was die akkurate skopwerk deur Keanu Gertse, wat 9 uit 10 drieë verdoel het. Die ander puntemakers vir die eerste span was: Curtley Swanepoel (vyf drieë), HR Claasen (twee), en Mitchell Jacobs, Kieran Dreyden en Gilton Mangena (een drie elk).

Hillcrest reis die naweek na Ceres om kragte te meet teen Ceres-rugbyklub.

You need to be Logged In to leave a comment.