Die afgelope naweek het twee Wellingtonse spanne kragte saamgesnoer in samewerking met die Kaapse Wynland-onderwysdistrik, die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, die Drakenstein-munisipaliteit en ander organisasies om sosiale kwessies in die gemeenskap aan te durf en hok te slaan.
Die dag het nie net oor rugby gegaan nie, maar die gemeenskap is weereens bewus gemaak van die stryd teen HIV/vigs, kanker, dwelmmisbruik en kindermishandeling.
Die voorsitter van Hillcrest United, Fabian Meyer, het die leisels geneem.
Die dag is opgetower met skolerugby tussen Newton Primêr en Hillcrest Primêr, en talle toeskouers het vir die hoofwedstryd na Pelikaanpark gestroom.
Ná 80 minute se klipharde rugby het Hillcrest United uiteindelik 32-24 koning gekraai.
Die tuisspan het ook die tweede- en derdespanwedstryde (28-11 en 3-0) gewen.
Uitblinkers vir die tuisspan was voorlangs die kaptein, Geoffrey Allies, die haker, Renaldo Festus, en die agtsteman, Trevino Pietersen. Agterlangs het Gilton Mangena die besoekers warm gehou.
Hillcrest het hierdie naweek ’n loslootjie terwyl Newtons teen Delicious van Ceres kragte meet.