Hillcrest United van Wellington het die naweek weer eens gewys hy gaan nie opgee in die stryd om die twee topposisies in die Grootuitdaag-Witsentraal-kompetisie nie.

Die span van Wellington het Ceres se Delicious die naweek op die Boland-stadion in Wellington goed laat les opsê met ’n 42-19-oorwinning. Hierdie oortuigende oorwinning het Hillies se kanse vir die twee voorste posisies versterk nadat Roses United 21-18 teen Newtonsvasgeval het. Die tuisspan het ook sy derdespanwedstryd 16-12 en die tweedespanwedstryd 33-19 gewen.

Die hoofwedstryd het teen ’n vinnige tempo afgeskop en die tuisspan het binne ses minute danksy André Manuel punte aangeteken. Delicious het kanse verbrou om punte aan te teken terwyl Hillcrest se Renaldo Festus gedruk het.

Swak dissipline het tot ’n geelkaart vir die besoekers gelei en die tuisspan het die geleentheid gebruik om twee keer agter die pale te gaan kuier met drieë deur Renaldo Young en Curtley Swanepoel. Die wedstryd het rustyd 29-0 in Hillcrest se guns gestaan.

Vars bene in die tweede helfte het die besoekers weer woema kom gee, maar dit was nie genoeg om die tuisspan te troef nie. Hillcrest se skerp agterlyn het nog twee drieë deur Renaldo Young en Keanu Gertse opgelewer.

Die eindtelling was 42-19.

Uitstaande spelers vir Hillcrest was voorlangs Adrian Swarts, Adriano Skermand en die kaptein, Geoffrey Allies. Agterlangs was Desti Davids, Burton Booysen, Renaldo Young en Andre Manuel skerp.

Puntemakers:
André3 Manuel [1 drie], Burton Booysen [1 drie], Renaldo Young [2 drieë], Renaldo Festus [1 drie], Curtley Swanepoel [1 drie] en Keanu Gertse [1 drie] en Burton Booysen [3 doelskoppe en 2 strafdoele]. Hillcrest pak Newtons die naweek op Newton Park.

You need to be Logged In to leave a comment.