Hillcrest United meet Saterdag kragte teen Roses United in ’n Wellingtonse derby. Die wedstryd word op die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT Wellington) se veld gespeel.

Roses het die stryd in die eerste ronde op Newton Park 26-22 gewen en loop 6-1 voor in derbies teen Hillies. Die verdedigende Boland-kampioen het Saterdag weereens die Wit-Sentraal-streektitel verower.

Franzel September, Roses se direkteur van afrigting, sal na alle waarskynlikheid ’n paar eerstekeuse­spelers vir die wedstryd laat rus.

Reggie Manuel, Hillcrest se hoofafrigter, sê die twee spanne bevind hulle in verskillende ruimtes. “Roses dink aan voorbereiding vir die top-12 terwyl ons in ’n bouproses is om jong, talentvolle spelers blootstelling te gee met die oog op die toekoms.

“Ek glo nie vir ’n oomblik dat die derby afgewater sal wees weens die feit dat ons nie meer kan kwalifiseer nie en baie bragging rights is nogop die spel. Ek doen dus ’n beroep op die Wellingtonse rugbygemeenskap om in groot getalle op te ruk om die dorp se toekomstige sterre te sien speel.”

Volgens Clemen Lewis, Roses se voorspeler-afrigter, is die wedstryd ’n gulde geleentheid vir spelers wat hulle in die top-12-groep wil “inspeel”.

“Ons meet onsself aan hoe ons die manne ontwikkel. Dis vir ons ’n riem onder die hart as ons ’n speler wat aan die begin van die seisoen vir die derde span gespeel het, kan ontwikkel en met vertroue in die eerste span kan gebruik. Ons sê altyd ons sal Roses se eerstespantrui aan iemand toevertrou wat hard werk en die trui verdien,” het die Boland-haker gesê.

Die eerste spanne skop 16:15 af en nie 16:00 soos gewoonlik nie.

You need to be Logged In to leave a comment.