Hillcrest Primêr in Wellington het in sy eerste geskiedkundige gebeurtenis van sy bestaansjaar twee o.13-rugbyspelers opgelewer wat sportbeurse ontvang het.
Lee-Will Claasen en Dominique Pietersen was in 2018 verbonde aan die skool waar hulle gr.7-leerders was. Hul nuwe tuiste is nou Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Johannesburg, waar hulle hul akademiese en sportloopbaan by die Blou Bulle se sportakademie gaan voortsit.
Lee-Will en Dominique het in Januarie per bus na Johannesburg vertrek nadat hul familie hartseer, maar ook met trane van blydskap, van hulle afskeid geneem het.
Hulle is met ope arms by hul nuwe tuiste ontvang en só het hulle rolmodelle geword vir geslagte wat kom.
Dié kans, wat moontlik net een keer in ’n leeftyd kan voorkom, is moontlik gemaak deur Gillroy Jones, ’n ere-onderwyser. Jones het voorheen spelers soos Diego Apollis (Garsfontein), die vurige senter wat ook oorspronklik van Wellington is, gehelp.
Met só ’n geleentheid word veral gekyk na finansieel behoeftige leerders, maar hulle moet besef dat dit nie net oor sport nie, maar akademie ook gaan.
Terence de Jongh, die skoolhoof van Hillcrest, verduidelik dit is juis kinders soos Lee-Will en Dominique wat bo hul omstandighede uitstyg.
“Ons skep die geleentheid en hulle moet dit gebruik. Jy moet drie dinge hê: Selfdissipline, die dryfkrag om jou doelwit te haal en jy moet besef wat jy insit, sal jy uitkry.”
Volgens De Jongh is iemand soos Jones nodig by ’n skool soos Hillcrest omdat hy ’n rol vervul wat baie onderwysers nie kan nie omdat hul aandag op talle ander gebiede vereis word.
“Daar is altyd iemand uit die gemeenskap wat bereid is om hande met die leerders te vat,” sê De Jongh. “Hoewel die skuif die twee jong rugbyspelers aan ’n vreemde wêreld blootstel waar niemand hulle ken nie, moet ’n mens soms die onbekende aandurf.”
Jones sê respek en kommunikasie bepaal hoe hulle met jou wil saamwerk; jy moet jou deel doen. “Dit gaan nie net oor rugby nie – dit gaan ook oor opdaag vir oefeninge. Hulle is bewys dat geleenthede vir ons kinders bestaan. Rugby is nie net vir speel nie; dit bring geld vir gesinne wat finansiële hulp nodig het.”
De Jongh, wat binnekort aftree, sê dit sal ’n hoogtepunt wees om ’n kind van hierdie skool op ’n hoë vlak in rugby te sien. “Dit laat jou goed voel.”
Ynolan Pietersen, adjunkhoof en die o.13-rugbyafrigter van die skool, beskryf Dominique het, hoewel kort van statuur, ’n wilskrag van sy eie en gee nie maklik op nie. Lee-Will, wat slot speel, is 1,6 m lank en toon indrukwekkende vaardighede op die veld. Hulle het verlede jaar vir die Boland se o.13-7’s gespeel, wat goeie voorbereiding vir hul uitdagings in Johannesburg sal wees.