Naylan Albertus Foto’s: Roswell de VriesFoto:


Twee o.13-rugbyspelers is gekies om hul akademiese jaar van gr. 8 aanstaande jaar (2020) by die Hoërskool Menlopark in Pretoria voort te sit. Albei seuns het sportbeurse gekry en die Hillcrest Primêr-familie is baie trots op hulle. Hulle is ’n bewys dat harde werk en volharding sukses bring.

En dit is presies wat Jeffrey Hendricks (agsteman/flank) en Naylan Albertus (senter/vleuel) gedoen het.

Jeffrey sê hy is baie bly vir die geleentheid en wil graag sy ouers trots maak. Hy sien uit na die nuwe uitdaging en wil graag eendag ’n professionele rugbyspeler word en ook vir die Springbokke uitdraf.

Die Springbok Duane Vermeulen, wat lid was van die span wat onlangs die Rugbywêreldbeker in Japan verower het, is Jeffrey se rolmodel. Sy boodskap aan die jeug is: “Werk hard en jy sal sukses behaal.”

Naylan sê hy gaan sy familie baie mis, maar is opgewonde oor die nuwe uitdaging en wil so gou as moontlik by sy nuwe skool aanpas. Die Nieu-Seelandse rugbyligaspeler Shaun Johnson is Naylan se rolmodel.

Naylan se boodskap aan die jeug is: “Respek en dissipline kan jou ver vat in die lewe. Soms lyk dit mense sien jou nie raak nie, en dis die tye wanneer jy moed verloor. Geleenthede is daar vir almal – dis net hoe jy dit aanpak.”

Hillcrest Primêr wens Jeffrey en Naylan sterkte toe, en dat hul nuwe tuiste vir hulle baie nuwe geleenthede sal bied. “Goeie wense vergesel julle as jong seuns van Wellington.”

You need to be Logged In to leave a comment.