Die belangrikheid van lees en om geld te spaar, is onlangs aan ’n gr. 3-klas van Hillcrest Primêr in Wellington uitgelig. Dit was deel van ’n onlangse boekvoorlesingprogram wat by dié skool begin is.
Gedurende Spaarmaand, wat in Julie gevier is, het die skool dit goedgedink om ’n boekvoorlesingprogram met ’n gr. 3-klas van 33 leerders van stapel te stuur. Die boekies wat gelees is, is boek 1 en 2 van Pennie Pensie: Die Spaarvarkie se Spaarbankskool.
“Daar is drie boekies in die reeks,” sê Jennifer Tise, wie se pennevrug dié reeks boekies is.
Tise is ’n nie-praktiserende maatskaplike werker en ook die fasiliteerder van die boekvoorlesingprogram.
“Die voorlesing gaan gepaard met toepaslike aktiwiteite en het ten doel dat dit waarde toevoeg tot kinders se begrip van die storie. Ons begin ook ’n proses om spaar as ’n gewoonte, soos die hoofkarakter, te bevorder deur spaarvarkies aan hulle te verskaf en hoe om dit aan te wend. So begin hul spaarreis. Ons motiveer ook die ouers gedurende die program om vir hul kinders spaarrekeninge in die kind se naam te open, wat ons wel met ’n aantal ouers reggekry het.
“Dit was eenvoudig ’n inspirerende ervaring. Soos die klas se opvoeder genoem het, het die storie ’n nuwe wêreld vir die kinders geopen – ’n wêreld waarvan hulle nie bewus was nie. Die praktiese identifisering met die storie en belyning met die spaarvarkies en hul teenwoordigheid met die opening van ’n bankrekening het soveel vir die kinders beteken. Hulle kan glo dat ’n boekstorie waar kan word. Hulle kon identifiseer met die hoofkarakter en meeleef deur middel van die praktiese aktiwiteit, asook die fisieke verkryging van hulpbronne soos die spaarvarkies en die opening van die bankrekeninge in hul eie naam.”
Spaarvarkies is verlede Donderdag (5 September), tydens nasionale boekweek, aan die leerders wat deel is van die program, oorhandig. Twee leerders het op die dag boek 1 van die Pennie Pensie-boekereeks tydens ’n prystrekking gewen.
“ ’n Deur is geopen waardeur hulle die ervaring gehad het dat dit moontlik is. Ons vertrou dat hul ouers hulle verder sal ondersteun om spaar as ’n gesonde gewoonte te vestig.
“Ons hoop dat ons hierdie program kan uitrol na ander klasse by Hillcrest Primêr, maar ook na van die ander skole in Wellington. Die program is spesifiek gefokus op die grondslagfase-leerder.
“Ons wil graag dankie sê aan Hillcrest Primêre Skool vir hul samewerking en omgee. Hul leerders se toekoms is ’n voorkeur vir hierdie skool.”
Tise rig ook ’n spesiale dank aan ander belanghebbendes wat deel was van die sukses van die program.