Alle paaie het die afgelope Saterdag (21 Junie) na Pelikaanpark gelei waar die twee plaaslike rugbyreuse, Hillcrest United en Newton RVK, mekaar in ‘n opwindende derby aangevat het. Ná 80 minute se hoogs vermaaklike spel het Hillcrest met ‘n indrukwekkende 48-35- oorwinning geseëvier, wat hom vyf belangrike ligapunte besorg het.
‘n Speler wat gewis almal se oog gevang het, was Hillcrest se senter, Conan le Fleur.
Hy het ‘n merkwaardige driekuns behaal en die spel met goeie samewerking in die middelveld saam met HR Claasens gedikteer. Le Fleur is tereg as Speler van die Wedstryd aangewys.
Hillcrest het gou op die telbord gekom toe James Solomons oor die doellyn ge- duik het. Sy drie is deur Aurelio Philander verdoel. Le Fleur het kort daarna sy eerste drie gedruk, waarna Wilfred Bowers met ‘n strafdoel vir Newton geslaag het.
Matt Morgan het ná goeie samewerking tussen die voor- en agterspelers vir Newton se eerste drie agter die doellyn gedruk.
‘n Onwettige duikslag het daartoe gelei dat Hillies se kaptein tyd in die koelkas moes deurbring, maar Philander het die voorsprong met ‘n strafdoel uitgebrei.
Newton het weer teruggekom met ‘n drie deur Nico Nel ná ‘n goed uitgevoerde
rolmaalbeweging. Die rustydtelling was 17-15 in Hillcrest se guns.
Ná rustyd het HR Claasens met flukse voetwerk onder die pale gaan druk, maar moes ongelukkig weens ‘n harde duikslag die veld verlaat. Newton het gereageer met ‘n sterk skrumbeweging, wat hul skrumskakel laat afrond het. Kort daarna het hul kaptein weer vir Hilroy Baadtjies ‘n drie geskep. Hillcrest het egter nie terug- gestaan nie. Ethan Voster het oorgeduik, en later is Newton se Riaan Williams ook vir ‘n oortreding koelkas toe gestuur.
Bowers het met nog ‘n strafdoel geslaag, maar Hillies se momentum was onafwendbaar. Le Fleur het sy tweede drie ná goeie werk van Hillies se pak ingeryg, en Philander het met ‘n skepdoel verdere skade aangerig. Hoewel Nel nog ‘n drie vir Newton gedruk het, het Solomons die pad vir Le Fleur se derde drie met kragspel oopgemaak. Philander het weer verdoel.
Philander het met ‘n taktiese en
beheersde vertoning gewys waarom hy as ‘n ware generaal op die veld beskou word. Sy spelpeil het ‘n sentrale rol in Hillcrest se strategiese uitvoering gespeel.
James Solomons het ook weer bewys waarom hy as een van die meer waarde- volle spelers in die span beskou word. Sy bestendige, indrukwekkende vertonings getuig van ‘n speler in uitstekende vorm.
Vir Newton het die kaptein Colin April voortgegaan om die leiding van voor te neem. Sy fisieke teenwoordigheid, spel- inligting en verrigting het bevestig waarom hy as een van die beste nr. 8’s in die Boland beskou word. Bowers het ook sy waarde vir die span bewys met ‘n vertoning wat tegniese vaardigheid en spelintelligensie kombineer het – ‘n ware toonbeeld van klas op die veld.
• Puntemakers: Hillcrest United (48): Drieë: James Solomons, HR Claasens,
Ethan Voster, Conan Le Fleur (3), Doelskoppe: Aurelio Philander (6), Strafdoel: Philander (1), Skepdoel: Philander (1).
Newton RVK (35): Drieë: Matt Morgan, Nico Nel (2), Turlin Adams, Hilroy
Baadtjies. Doelskoppe: Wilfred Bowers (3).
Strafdoele: Bowers (3).
• Ander uitslae: Delicious 17-16 Young Blues; Evergreens Paarl 17-48 Ceres; Hamlet 35-38 Bella Vista; Hillcrest 48-35 Newtons; Villagers Newton 42-19 Temperance; Wolseley 36-38 Roses United.