Ek soek nou waarskynlik onnodig skoor, maar dit voel my ek wil darem die volgende van my hart af kry.
Hier in die Boland sien ons oor die afgelope twee jaar ’n ongekende toestroming van mense uit die noordelike provinsies, wat ’n beter heenkome in die Wes-Kaap kom soek. En ons verwelkom hulle, want die Boland is al uit Simon van der Stel se tyd bekend as die mees gasvrye kontrei in die Kolonie.
Maar nou vergeet die nuwe bure so ’n bietjie dat ‘n mens in Rome soos die Romeine maak – dis net goeie maniere.
Hier by ons in die vallei gaan dinge hul gang teen ’n stadiger pas. Ons neem tyd om in ’n ry by die winkel te gesels met die mens voor of agter jou – ek is nie mal as ek jou in die winkel groet nie! As jy my vra waar is ’n plek, dan sê ek: “Wag, ek betaal net gou, dan ry jy agter my aan. Ek gaan wys jou gou.”
Ons stap met skemeraand om langsaan toe vir ’n glasie rooi op ’n wintersaand by die bure; dis ons manier. Ons sê “Oom” en “Tannie” omdat dit ons manier van respek is.
Dis nie vir ons ’n teken van sosiale aansien om met ’n reusagtige viertrek-sportnuts voor iemand anders by ’n parkeerplek in te druk nie. Ons ry met ons plaasbakkies en ou VW Golfies, want ons dorpe is vol ou huisies waar jy snags jou ryding in die straat parkeer. En as dit parstyd is, raak jy nie ongeduldig in die strate wanneer die druiwetrekkers met hulle vragte op pad is kelder toe nie.
Jy is nie kortaf met iemand wat uitvra waar jy vandaan kom of van watter Botha’s of Viljoens jy is nie. Ons Bolanders lê graag familie uit.
Vir ons is “Die Kaap” nie alles suid van die Oranjerivier nie. “Die Kaap” begin by Milnerton se afrit van die N1. Ons het die ou wederstrewigheid van die inwoners van die Vallei om ons eie identiteit te hê.
Ons ry ons ry, praat ons praat, kuier ons kuier en doen ons ding op ons tyd. En as jy daaroor opstropelis wil wees wanneer jy hier kom woon, gaan jy dié plek maak nes die een waar vandaan jy padgegee het.
Haal asem, mens, en skiet jou wortels in ons Bolandse grond. Jy sal spoedig agterkom hoekom jy ’n wyse besluit geneem het. En as jy sukkel om aan te pas, loop oor die straat en gaan stel jouself voor. Hier by ons maak jy nie ’n afspraak om vriende te maak nie.