Inwoners van dele van sentrale Paarl het verlede Woensdag met groot kommer gesien hoe hul herwinningsakke deur ’n gewone munisipale verwydersingsvragmotor saam met gewone rommel opgelaai en weggery word.

Paarl Post het vroeër vanjaar berig oor duidelike probleme en vertragings destyds met die munisipaliteit se herwinningsprogram; ook dat die herwinningsmark as gevolg van Covid-19 feitlik in duie gestort het – ook as gevolg van China wat sedert 2020 ’n verbod op die invoer van herwinningsmateriaal geplaas het.

Vrae het dus vandeesweek weer ontstaan oor die Drakenstein-munisipaliteit se herwinningsprogram.

Maar volgens die munisipale woordvoerder, Gerald Esau van die Drakenstein-munisipaliteit, ondersteun die munisipaliteit herwinning ten volle en sy herwinningsprogram “is gevestig en goed op dreef”.

Hy het gesê die munisipaliteit gebruik enkel-as-vulliskompakteerders om herwinningsmateriaal op te laai. Woensdae gebruik hulle drie kompakteerders, en die res van die week twee.

Hierdie voertuie kan groter volumes herwinningsmateriaal laai, dus is dit meer doeltreffend om hierdie enkel-as-vulliswaens te gebruik. Die bemanning op die kompakteerders is ook opgeleide operateurs en werkers wat die herwinningsmateriaal op die vragmotors laai.

Esau sê sodra elke vragmotor vol is, ry dit na die Paarl-oorlaaistasie in Distilleryweg, waar die materiaal afgelaai word. Die herwinningsma­teriaal word gesorteer en afsonderlik gebind en deur ’n groep van 30 herwinnings­entrepreneurs (voorheen informele herwinnaars) verpak.

Verder sê Esau dié entrepreneurs – ’n projek waarvoor die Drakenstein-munisipaliteit al pryse ontvang het – is selfonderhoudend. Hulle verkoop die materiaal aan verskillende herwinningsondernemings en verdeel die inkomste onder mekaar.

Die departement van omgewingsake het die Drakenstein-munisipaliteit vroeër genader rakende sy suksesvolle projek om informele herwinnaars by sy formele herwinningsproses te integreer met die doel om dit by ander munisipaliteite te implementeer.

“Die Drakenstein-munisipaliteit ontvang hulp van Petco en die Mina Foundation om PPE (toerusting vir persoonlike beskerming) aan die herwinningsentrepreneurs te voorsien.

“Die doel van die herwinning is om bruikbare materiaal te herbenut om die druk op die Wellington-stortingsterrein te verlig. Inwoners wat aan ons herwinningsprogram wil deelneem, kan gerus ons kantoor gedurende werksure by 021 807 4708 kontak.” . According to the Drakenstein Municipality, the recycling program is up and running and successful.

You need to be Logged In to leave a comment.