Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir die Wynland-distrik, wat dorpe soos Wellington, die Paarl, Franschhoek en Stellenbosch insluit, het ’n aankondiging deur dr. Pieter Groenewald, die minister van korrektiewe dienste, verwelkom waarin hy sê sy ministerie beplan om die paroolstelsel te hersien sodat ’n stelsel van stapel gestuur word waarin slagoffers en hul geliefdes ook in die proses geken word.
Groenewald het onlangs op die parlement se portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste oor dié kwessie gepraat.
Hy het ná die sitting aan Netwerk24 gesê dié hersiening is nodig omdat daar “baie paroolrade in die distrikte is waar gevangenes vrygelaat word sonder dat behoorlike oorweging gegee is aan die meriete van die parool”.
Groenewald het verwys na die geval van Marius van der Westhuizen wat op 31 Julie op parool vrygelaat sou word nadat hy voor die paroolraad in die Malmesbury-gevangenis suksesvol om parool aansoek gedoen het.
Van der Westhuizen, die destydse bevelvoerder van die Claremont-polisiekantoor, is in 2011 tot 24 jaar tronkstraf gevonnis vir ’n driedubbele moord nadat hy in 2006 sy kinders voor hul ma doodgeskiet het.
“Ek dink dit is ’n goeie voorbeeld van ’n geval waar die Malmesbury-paroolraad vir hom parool gegee het. Nadat ek ingegryp en ’n hersiening versoek het, is dit afgewys,” sê Groenewald.
Groenewald sê verder mense uit die gemeenskap moet ook in paroolrade dien.
“Die hersiening wat ek as minister sal wil sien, is dat daar ook kundiges soos regsgeleerdes, maatskaplike werkers, lede van godsdiensgroepe en ook DKD-amptenare in paroolrade dien.
“In die wysigings moet dit ook baie duidelik wees dat die slagoffers van misdadigers ook ’n belangrike rol speel in die bepaling of ’n gevangene parool kan kry of nie. Daar word te min klem gelê op die belange van die slagoffers. Daar moet ’n balans wees. Dit is waarom dit noodsaaklik is dat die paroolstelsel hersien moet word.”
Klaas Morkel, voorsitter vir die Wynland-distrik-GPF, het vandeesweek aan Paarl Post gesê die korrektiewe-dienste-ministerie se beoogde planne is ’n stap in die regte rigting.
“Wat ons in veral ons kleiner gemeenskappe ervaar, is dat slagoffers nooit geken is in ’n besluit om parool toe te staan aan misdadigers wat vir ernstige misdade soos verkragting en moord vervolg is nie.
“Slagoffers en hul families word dan van voor af deur al daardie trauma gesit deurdat hulle misdadigers in die gesig moet kyk.
“Boonop is daar bewyse van so baie gevalle waar misdadigers op parool vrygelaat word en dan net dieselfde of selfs ernstiger misdade pleeg. Dit plaas baie druk op ons organisasies wat hard probeer om gemeenskappe te beveilig, dus moet die breër gemeenskap eintlik ook geken word, sou mense in aanraking kom vir parool,” sê hy.
Morkel sê verder hoewel die GPF in die distrik bewus is dat gevangenisse vol is, is dit nie ’n las wat op gemeenskappe se skouers geplaas moet word nie.
“In Desember verlede jaar is bykans 2 000 gevangenes uit tronke in die Wes-Kaap vrygelaat. Dit kan toegeskryf woord aan oorvol tronke, maar ek kan jou waarborg ’n groot getal van hulle is al weer agter tralies.
“Die probleem waarmee ons sit, is dat daar nie genoegsame en doeltreffende ondersteuning- en rehabilitasieprogramme is wat deel van die paroolproses moet vorm nie.
“Gevangenes kom uit en word dan aan hul eie genade oorgelaat. Dit is dus so maklik vir hulle om dan weer in misdaad vasgevang te raak,” benadruk hy.
Intussen het Thomas Walters, die DA se Wes-Kaapse woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, by navraag aan Paarl Post gesê die doel van die land se regstelsel behoort altyd die rehabilitasie van misdadigers te wees.
“Terselfdertyd kan ons nie voortgaan in ’n stelsel waarin baie voorwaardelik vrygestelde individue weer misdade pleeg en hul lewens gereeld in en uit korrektiewe fasiliteite deurbring nie.
“In die Wes-Kaap werk die korrektiewe stelsel duidelik nie soos dit behoort nie, en te dikwels sien ons dat gewelddadige misdadigers terug op straat toegelaat word.
“Vir ons provinsie is dit veral belangrik dat ons die faktore rondom paroolbesluite, wie op die paroolrade sit en hoe hulle saamgestel is, behoorlik herevalueer.”
Hy het bygevoeg dat die paroolstelsel lank terug hersien moes wees.
“Wat die belangrikste is, is dat paroolrade beman moet word met goed gekwalifiseerde en behoorlik opgeleide individue, wat ten volle in staat is om te bepaal of en wanneer ’n veroordeelde misdadiger geskik is om weer in die samelewing in te gaan.
“Hierdie besluit kan nie ligtelik of arbitrêr geneem word nie, maar moet eerder ’n sorgvuldige balans vind tussen die behoeftes van slagoffers, oortreders en die samelewing in die geheel.
“Die verskillende verslae wat deur paroolrade oorweeg word, soos sielkundige assesserings, moet gewig dra in die besluitneming van paroolrade om ’n persoon vry te laat of nie.”
Tans kan misdadigers vir parool in aanraking kom wanneer hulle minstens die helfte van hul straf uitgedien het.
Daar moet ook genoegsame verandering in hul gedrag wees, wat dan dien as ’n aanduiding dat hulle nie weer vervolg sal word nie.
Die paroolraad bestaan tans uit ’n aantal individue en sluit ook lede van die misdadiger se onmiddellike gemeenskap in.