Verskeie rugby-instansies het hul stemme dik gemaak oor wat beskryf word as ’n “polities gedrewe” finansiële skenking van die bruin-burgerregteorganisasie Kaapse Forum aan rugbyklubs in die Boland.

Die SA Rugbyunie se president, Mark Alexander, sê die Boland-unie se besluit om so ’n skenking te aanvaar en “in te skakel by sekere strukture wat ’n politieke aanslag het”, skep ’n gevaarlike presedent.

“Die Boland-rugbyunie het daardie roete gekies, en hy moet daarmee saamleef. Daar is altyd gevolge en ons moet op ons voete dink en verantwoordelik optree wanneer ons daardie besluite neem.”

Die Kaapse Forum is ’n filiaal van AfriForum, wat op sy beurt by die Solidariteit Beweging inskakel.

Boland-rugby het die finansiële skenking gebruik om gholfhemde vir sy top-32 klubs te koop.

Nóg Kaapse Forum nóg Boland-rugby wil egter sê presies hoe groot die skenking was.

Daar is ook binne die Boland Rugbyunie (BRU) ongelukkigheid oor die skenking omdat sommige klubs en spelers meen Kaapse Forum is “net ’n front vir die DA en VF Plus”.

Om ’n voet in die deur te kry by Boland-rugby hou geweldige voordeel vir die Kaapse Forum in. Boland is die grootste unie in die land wat klubs en geregistreerde spelers betref – 216 klubs en 19 000 spelers.

Heindrich Wyngaard, voorsitter van die Kaapse Forum, sê as hulle bruin mense – wat die grootste bevolkingsgroep in die Wes-Kaap is – wil bereik, is rugby ’n “goeie afskopplek”.

“In die Boland is rugby spesifiek ’n sport wat vir jong mense ’n geleentheid gee om te ontvlug van al daai sosiaal-ekonomiese uitdagings wat hulle daagliks mee te doen kry.”

Oor Alexander se kritiek sê Wyngaard: “Alexander word mislei deur die vooroordeel teen Kaapse Forum van ’n bepaalde joernalis en ANC-handlangers in die Wes-Kaap.

“Indien hy enige ruggraat het, sal hy vir Kaapse Forum ’n geleentheid gee om met SA Rugby te vergader sodat ons vir hom kan vertel wie ons is (sodat) hy nie op grond van hoorsê reageer en ’n unie probeer boelie nie.”

Die kritiek oor die finansiële skenking is vroeër aangehits deur ’n joernalis van ’n poniekoerant wat redelik krities oor die skenking berig het.

Die president van die Boland-unie, Bennie van Rooi, het self in ’n sterk bewoorde verklaring teen die joernalis se bewerings kapsie gemaak en hom daarvan beskuldig dat hy met “agterdogskeppende joernalistiek die goedbedoelde poging van die Kaapse Forum . . . ondermyn”.

Van Rooi meen dis ongevraagd en kwaadwillig om BRU van kwasi-politiekery te beskuldig.

You need to be Logged In to leave a comment.