’n Eienaar van twee wooneenhede, en self ’n inwoner van die De Chavonnes- woonstelkompleks in die Paarl, sit met sy hande in sy hare nadat ’n nuwe raad van trustees en bestuursagent aangestel is wat, volgens hom, onkonstitusioneel is.
Agtergrond
Dawid du Toit en sy gesin woon reeds etlike jare in De Chavonnes, waar hy ook tot Februarie vanjaar as voorsitter van die beheerliggaam (body corporate) se trustees gedien het, voordat hy afgedank is.
Du Toit beweer die nuwe trustees is onkonstitusioneel omdat daar nie ’n jaarvergadering gehou is waar die trustees deur die kompleks se eienaars verkies is nie.
Volgens Du Toit is hy op 15 Maart vanjaar afgedank as De Chavonnes se voorsitter toe hy vrae begin vra het oor bedrogbewerings wat teen ’n trusteelid gemaak is wat ook tans as die woonstelkompleks se bestuursagent en/of portefeuljebestuurder dien.
Volgens Du Toit is dit onseker wat die persoon se rol is nadat hulle reeds “in ’n tydperk van vyf maande aan hulself drie verskillende poste toegeken het” asook in hierdie tydperk reeds twee voorsitters en drie verskillende trusteegroepe verkies het.
Du Toit het verduidelik dat die bestuursagent en/of portefeuljebestuurder die Africa Property Group (Pty) Ltd-eiendomsgroep besit, maar dat beide dié onderneming én die bestuursagent en/of portefeuljebestuurder nie by die Property Practitioners Regulatory Authority (PPRA), soos die wet vereis, geregistreer is nie.
Die bestuursagent en/of portefeuljebestuurder het wel ’n geldige Getrouheidsfonds-sertifikaat bekom.
Du Toit het op 11 September ’n klagte by die Community Schemes Ombud Service (CSOS) teen Africa Property ingedien asook by die PPRA op 21 Julie, wat tans ondersoek word.
Bedrogbewering
Wat die bedrogbewering betref, verduidelik Du Toit dat die bestuursagent en/of portefeuljebestuurder, wat daardie tyd slegs ’n trustee vir die beheerliggaam was, ’n versekeringseis vanR9 642,23 ingedien het vir ’n nuwe deur in hul woonstel, terwyl die eintlike kwotasie ’n bedrag van R5 741 weerspieël het.
“Hulle [die bestuursagent en/of portefeuljebestuurder] het as ’n trustee geweier dat ons [De Chavonnes se destydse] besturende agent die versekeringseis hanteer en vir die agent gesê dat hulle dit self sal hanteer. Ek [Du Toit] was destyds die voorsitter [van die raad van trustees] en die besturende agent het my vertel wat aangaan.
“Die kwotasie wat ek van die versekering ontvang het vir die vervanging van die deur het R9 642,23 beloop wat die [huidige] bestuursagent en/of portefeuljebestuurder geëis het, en die kwotasie wat ek van die kontrakteur ontvang het wat die kontrakteur aan hulle [die huidige bestuursagent en/of portefeuljebestuur-der gestuur het, hetR5 741 beloop.”
Du Toit het bewyse hiervan wat Paarl Post onder oë gehad het.
Volgens Du Toit het hy die bedrog aan die beheerliggaam uitgewys, waarna hy afgedank is en ’n nuwe voorsitter gekies is.
Ander klagtes
Nog ’n teer punt is die feit dat Du Toit se gesin van 8 September tot nou nie almal toegang tot die woonstelkompleks het nie omdat hul nommers nie geaktiveer is om die hek oop te maak nie.
Volgens Du Toit is daar ’n handvol ander inwoners wat met dieselfde penarie sit nadat die beheerliggaam die hekstelsel verander het, en eerder as om ’n knoppie op ’n afstandbeheerder te druk, moet die hek nou deur middel van ’n selfoon gebel word om oop te maak.
Du Toit het verduidelik dat die nuwe trustees die hekstelsel sonder waarskuwing op 8 September verander het nadat hulle in vorige kommunikasie gesê het dat die verandering eers van 30 September sal plaasvind.
Daar is vir eienaars en huurders gevra om hul selfoonnommers en ander persoonlike inligting, soos byvoorbeeld ’n identiteitsnommer, vir die beheerliggaam te stuur om hulself op die hekstelsel te aktiveer.
Nietemin het Du Toit vasgeskop hierteen, en wou hy nie sy en sy gesin se persoonlike inligting aan die beheer- liggaam bekend maak nie, waarna hulle toegang geweier is.
Volgens hom “maak dit nie sin” dat hy sy persoonlike inligting moet deel om toegang tot die hek te kry nie, en het verduidelik dat bloot ’n selfoonnommer genoeg behoort te wees.
Du Toit het aan die koerant gesê sedert die intrede van die nuwe trustees gaan die instandhouding van die woonstelkompleks “agteruit” en dat hy en sy gesin nie meer welkom voel in die woonstelkompleks nie.
Reaksies
Paarl Post het uitgereik na Africa Property, en die bestuursagent en/of portefeuljebestuur-der met vrae of die persoon en hul onderneming, Africa Properties, by die PPRA geregistreer is, asook vir kommentaar rakende Du Toit se beweringe, maar het dreigemente ontvang.
Die koerant het ook uitgereik na die nuwe trustees rakende Du Toit se bewerings oor die beweerde onkonstitusionele trustees en ander klagtes, wat per e-pos die volgende gesê het: “Du Toit het ’n hangende saak [by CSOS] en ons [die beheerliggaam] wil geen verdere kommentaar oor hierdie aangeleentheid lewer nie.
“Ons sal egter noem dat Africa Property uitsonderlike werk tot dusver by De Chavonnes gedoen het.
“Ons het niks anders as sukses gehad nie en ons belegging se waarde het gestyg danksy Africa Property.
“Soveel goeie dinge het gebeur sedert Africa Property oorgeneem het, en ons kan net dankbaar wees.
“Ons is ’n sterk groep trustees wat saamstaan en die beste besluite neem ten gunste van De Chavonnes.”