Die Drakenstein-munisipaliteit het in Februarie vanjaar ’n Duitse afvaardiging ontvang. Een van die aktiwiteite op hul toer was ’n fynbos- kulinêre en medisinale aanbieding, wat bygedra het tot die bykans R50 000 wat op die geleentheid bestee is. Foto: Drakenstein-munisipaliteit


Die ANC en GOOD-party in die Drakenstein-munisipaliteit het hul kommer en ongelukkigheid uitgespreek nadat finansiële verslae verlede week getoon het die munisipaliteit het in Februarie vanjaar bykans R50 000 bestee om ’n afvaardiging van 20 Duitsers by onder meer die KWV-emporium in die Paarl te onthaal.

Die besoek het glo deel gevorm van ’n bilaterale verhouding tussen die Duitse staat Beiere en die Wes-Kaap.

Hierdie jaar het die Wes-Kaapse regering die Drakenstein-munisipaliteit gekies om spesifieke beste praktyke in volhoubaarheid, wat die munisipaliteit tot op hede ingestel het, ten toon te stel.

Die besoek deur die groep Beierse professionele lui het gefokus op ’n vaardigheidsuitruilprogram, het Seraj Johaar, uitvoerende direkteur vir korporatief en beplanning, by navraag aan Paarl Post gesê.

“Die afvaardiging het tydens hul toer verskeie munisipale projekte wat op volhoubaarheid fokus, besoek, soos die Leliefontein-pompstasie en die Paarl- arboretum, asook die Mbekweni-ekoklub.

“Onder die hoogtepunte van die besoek was die KWV Cathedral Cellar-ervaring, wat wyd bekend staan as ’n outentieke aantrekking in die Kaapse-wynlande. Die KWV-handelsmerk is ’n internasionaal erkende handelsmerk wat sinoniem is aan Suid-Afrika se wynbedryf.

“Die besoek het verder die Suid-Afrikaanse Fynbos-ervaring ingesluit – deel van ons onlangs bekendgestelde Wynlande-volhoubaretoerisme-roete; dit het ’n unieke sensoriese reis in fynbos kulinêre en medisinale aanbiedinge verskaf,” het Johaar bygevoeg.

Die munisipaliteit sien egter niks verkeerd daarmee om meer as R2 000 per persoon op 20 mense te verkwis nie, maar sopkombuise kry minder as R20 per persoon per maand
Keagen Gertse, GOOD-party

Keagen Gertse, die koukusleier van die GOOD-party, het vandeesweek aan Paarl Post gesê sy party beskou die aangeleentheid as verkwistende uitgawes en bevestig hulle het dit op verlede week se raadsvergadering bevraagteken.

“Die uitgawe is as ’n afwyking gelys. Ingevolge wetgewing word ’n afwyking oorweeg wanneer ’n uitgawe afwyk van standaardverkrygingsprosesse vir goedere of dienste wat in lyn is met die munisipaliteit se diensleweringsmandaat.

“Politieke leierskap het gepoog om die onkoste te regverdig. Sulke uitspattige besteding is egter onverdedigbaar aangesien hulle gemaklik is om duisende rande op ’n groep van 20 uit te gee, maar ’n skamele R400 000 vir 18 sopkombuise in die 2024-’25-boekjaar begroot het wat honderde mense, minstens, maandeliks moet voed,” het Gertse benadruk.

Hy meen die geld moet eerder vir die “opgradering van kritieke infrastruktuur, die regmaak van lekkende watermeters en die bou van huise gebruik word”.

“Die munisipaliteit sien egter niks verkeerd daarmee om meer as R2 000 per persoon op 20 mense te verkwis nie, maar sopkombuise kry minder as R20 per persoon per maand.

“Hierdie DA-beheerde administrasie word by die dag dapperder wanneer dit kom by die vermorsing van belastingbe­talers se geld. Slegs ’n week gelede het die raad ’n elektrisiteitstariefverhoging van 8,56% goedgekeur, wat meer as R1,5 miljard in inkomste-invordering sal bydra en die burgemeester se salaris effektief van R1,2 miljoen tot R1,3 miljoen per jaar neem,” het hy bygevoeg.

Moutie Richards, die leier van die ANC wat die amptelike opposisie in Drakenstein is, het vandeesweek gesê sy party beplan om die aangeleentheid weer in die raad te opper.

“Dit is iets wat ons gewis gaan moet opvolg. Dit is nie ’n verskriklike groot bedrag nie, maar hierdie is belastingbetalers se geld wat vir ’n luukse ervaring gebruik is.

“Bykans R50 000 vir 20 mense op een dag kan nie regverdig word nie,” het Richards gesê.

Volgens Johaar is die geld vir die aangeleentheid toegeken uit die munisipaliteit se toerisme-begroting.

You need to be Logged In to leave a comment.